Meer as 700 m se nuwe rioolpypleiding is onlangs deur Aardvark-konstruksie, ’n subkontrakteur van Iceberg-konstruksie, in Universitasrif gelê.
Tjaart van der Walt, DA-raadslid van wyk 23, sê hy vra al sedert hy in 2016 hier tot raadslid verkies is, vir die opknapping van die riool-infrastruktuur in dié woonbuurt.
Die nuwe pypleiding wat onlangs gelê is, sal na verwagting verligting bring vir inwoners wat gereeld moes deurloop onder verstopte rioolpype, wat riool in hul erwe laat uitloop het.
Dit het ongeveer drie weke geneem om die pyp van 700 m in die klipperige grond al langs Nelson Mandelarylaan te lê.
Louis Smith van Aardvark sê hulle het al meer as 3 km se nuwe pype in die stad aangebring.
Dit sluit dele soos Naval View en Hilton in.
Die nuwe pyp is 200 mm in deursnee en is gemaak van hoëdigtheid-polipropileen.
Smith sê bome se wortels kan nie dié nuwe pype binnedring en verstoppings veroorsaak nie.
Om die ou, bros kleipyp te verwyder, het hulle ’n masjien gebruik wat die ou pyp breek, terwyl die nuwe pyp terselfdertyd gelê word.
By elke huis en aansluiting, sowat 80 m uitmekaar, is ’n lasplek in die pyp en ’n mangat.
Die pyp lei uiteindelik na die rioolplaas in Bloemspruit.
Van der Walt sê hy is dankbaar dat nou gehoor gegee is aan die versoeke van die gemeenskap in die metro se ontwikkelingsplan in verband met die uitgediende rioolpype hier.
Aardvark-konstruksie is slegs verantwoordelik vir die lê van die hoofpypleiding en nie die aansluitings vanaf ander pype en huise in Universitas-rif nie.