
Delien Kleinhans
Die Suid-Afrikaanse junior tenniskampioen van Bloemfontein het twee kishoue in een stel gemoker toe sy haar matriekeindeksamen ses stroop baasgeraak het.
Delien Kleinhans, ’n tennisster uit die Vrystaat, het in haar eindeksamen vir ses van haar sewe vakke onderskeidings behaal. Dit terwyl sy ten tyde van haar eindeksamen aan die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap deelgeneem het waar sy die tweede agtereenvolgende jaar as die tenniskampioen gekroon is.
Dié slimkop, wat aan die Eunice High School for Girls in Bloemfontein gematrikuleer het, se kop staan egter tennis toe en sy sal haarself in Augustus vanjaar by die University of South Alabama aansluit waar sy met ’n tennisbeurs fisioterapie gaan studeer.
Delien sê sy het haar hele hoërskoolloopbaan haar oog op oorsese studies gehad.
“Ek wou nog altyd oorsee gaan swot en ek wou ook graag fisioterapie studeer,” sê die eerste-gekeurde tennisster.
Sy behaal onderskeidings in Afrikaans, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, geskiedenis en lewensoriëntering.
“My skoolloopbaan het heelwat anders as die normale leerling s’n gelyk,” sê Kleinhans.
Omdat sy dikwels aan tennistoernooie wêreldwyd deelgeneem het, sê sy was sy die meeste van die tyd meer op die tennisbaan as op die skoolbanke.
“Ek moes baie keer my skoolwerk ná wedstryde en toernooie inhaal. Tydsbestuur en prioritisering was die kernwoorde van my hoërskoolloopbaan,” sê sy.
Alhoewel dit met tye uitdagend was om al haar balle in die lug te hou, sê Kleinhans was dit makliker met die hulp en ondersteuning van haar skool en onderwysers.
“Hulle het altyd seker gemaak dat ek die werk het wat ek in die klas sou misloop. Hulle het so baie moeite gedoen.”
Kleinhans sê sy sien uit na die nuwe avontuur wat vir haar in Amerika voorlê.
“Ek glo daar lê geleenthede voor vir my tennis wat ek nie noodwendig in Suid-Afrika sou kon losslaan nie. Ek sien uit daarna om in my loopbaan te groei en nuwe mense te kan ontmoet.”