Derduisende doppies haal nooit die vullishoop, maar maak eerder ’n verskil

Vrolik gekleurde botteldoppies van 1 640 kg plastiek wat moontlik iewers op ’n stortingsterrein sou beland en die aarde sou besoedel, is danksy die Vrystaatse kantoor van die staatsdiensvakbond PSA se herwinningsprojek ingeruil om ’n skenking van rol


Vrolik gekleurde botteldoppies van 1 640 kg plastiek wat moontlik iewers op ’n stortingsterrein sou beland en die aarde sou besoedel, is danksy die Vrystaatse kantoor van die staatsdiensvakbond PSA se herwinningsprojek ingeruil om ’n skenking van rolstoele moontlik te maak.

Redaksielede van Sentraal24 (verantwoordelik vir die gemeenskapskoerante Express, Bloemnuus, VrystaatKroon, Vista en NoordkaapBulletin) het op 17 November die doppies wat personeel van Sentraal24 ter ondersteuning van die projek ingesamel het, aan die PSA oorhandig. Die plastiekknippies wat gebruik word om broodsakkies toe te hou, is ook ingesamel.

Diana Schutte van die PSA verduidelik die doppies en broodsakkie-knippies is ingesamel met die doel om rolstoele vir leerlinge van die Tswellang- Spesiale Skool in Bloemfontein te koop.

Dit het deel gevorm van die PSA se nasionale projek om plastiek in te samel om dit vir rolstoele te ruil.

Lynsie Pelser, die PSA se projek-koördineerder by die Bloemfontein-kantoor, sê hulle het versoek om die projek plaaslik te pak en die hele Vrystaat te betrek om te help om koeldrankbotteldoppies en broodsakkie-knippies in te samel en na die Bloemfontein-kantoor te stuur.

“Die publiek se reaksie was wonderlik,” sê Pelser.

“Mense van so ver soos die Strand in die Kaap tot Keimoes het doppies gestuur. ’n Kleuterskool in Vrede het vir ons 11 swartsakke vol doppies gestuur.”

Sy sê ook die Laerskool Willem Postma het dit ’n skoolprojek gemaak en ’n insameling gedoen.

Madré Ferreira, fisioterapeut by Tswellang, het met die bekendstelling van die projek in Julie verduidelik dat ongeveer 100 van die skool se leerlinge daagliks van rolstoele gebruik maak.

“Die kinders groei en moet ten minste elke twee jaar nuwe rolstoele kry totdat hulle volgroei is.”

Sy verduidelik talle leerlinge het ook gespesialiseerde rolstoele nodig om by hul spesifieke behoeftes aan te pas.

“ ’n Gewone rolstoel kos ongeveer R4 500, terwyl een wat aangepas moet word, enigiets tussen R6 500 en R20 000 kan kos.”

Pelser sê die PSA het reeds twee rolstoele aan die skool geskenk en het nou genoeg doppies ingesamel om nog drie rolstoele te bekom.

“Dit het so goed gegaan dat ons in Januarie met die projek gaan voortgaan. Mense kan dus bly insamel en dit na ons kantoor in Eerstelaan bring sodat ons volgende jaar nog rolstoele kan koop,” sê Pelser.

Die leerlinge van Tswellang het ook aan die insameling deelgeneem, en die klas met die meeste doppies is Donderdag aangekondig en met pizza bederf.

Die skool het altesaam 700 kg tot die projek bygedra.

You need to be Logged In to leave a comment.