Die Mangaung-metro gaan as deel van sy veldtog Reclaiming the City binne die volgende paar weke toeslaan op onwettige studente-huise in Bloemfontein.
Dit volg nadat inwoners van Universitas moedeloos is oor die probleme met studentehuise in dié woonbuurt. Klagtes oor dié probleme duur reeds jare.
Op ’n woonbuurtvergadering Maandag 7 November het inwoners verskeie klagtes oor studentehuise van rusverstoring tot studentehuise wat onwettig bedryf word, bespreek.
Herman Lombaard, inwoner van Universitas, het aan Bloemnuus gesê die geraas en gemors by sommige studentehuise, is slegs die oortjies van die seekoei.
“As ’n mens begin kyk na die belasting wat weens nie-nakoming van munisipale regulasies verlore gaan, beloop dit baie,” het hy gesê. Volgens die metro se munisipale regulasies van 2021 mag daar ook net ’n maksimum van 20 studente per studentehuis wees.
Volgens hom voldoen 43 van die 1 433 studentehuise aan die UV se akkreditasie-regulasies.
Frikkie Eisenberg, veiligheidshoof van die Sektor 3 GPF wat Universitas en Parkwes insluit, sê inwoners is radeloos met geraas wat dikwels daagliks by van die huise steurnisse veroorsaak en inwoners se lewensgehalte beïnvloed.
Van die probleme wat hulle gereeld ondervind, is harde musiek en lawaai asook studente wat rommel strooi.
Volgens Lacea Loader, woordvoerder van die UV, is 25 studentehuise buite die kampus ten volle geakkrediteer en 865 voorwaardelik by dié instansie geakkrediteer in ’n poging om verblyf van die kampus af te reguleer.
“In ’n onlangse vergadering met raadslede en verteenwoordigers van die woonbuurtverenigings van Universitas en Brandwag, het die bestuur van die UV gevra dat daar beter samewerking tussen die verskillende belanghebbendes insluitende die eienaars van studentehuise, studente, huiseienaars, wetstoepasingsbeamptes, die hoër onderwysinstellings in die stad en ander strukture moet wees.”
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het bevestig dat studentehuise wat nie voldoen aan die metro se regulasies van 2021 nie, binnekort as deel van Reclaiming the City-projek besoek gaan word.
Lauder sê studenteverblyf op die kampus is op 100% kapasiteit en daar is beplanning vir uitbreiding van studenteverblyfgeriewe vir nagraadse studente.
Sy sê mense moet onthou dat hoewel die UV-studente onderhewig is aan die universiteit se waardes en hulle herinner moet word aan hul verantwoordelikhede as huurders, dit belangrik is dat lede van die gemeenskap kriminele bedrywighede by die wetstoepassingsbeamptes moet aanmeld.
Schalk van Vuuren, voorsitter van die Universitas-woonbuurtvereniging sê lede van die vereniging maak gereeld parke en middelmannetjies skoon. Anchor of Hope maak ook een maal ’n maand veral Pres Paul Krugerlaan en De Bruynstraat skoon.
Hy moedig mense aan om deel van die vereniging te word en daag ook eienaars van studentehuise uit om lede te word en ’n bydra te maak en beter samewerking te bewerkstellig.
Hy sê Campus Key is ’n lid van die vereniging en die studente neem gereeld aan skoonmaak-aksies deel.
Bure van studentehuise wat baie geraas veroorsaak, word gevra om dit by die SAPD by die Parkweg-kantoor aan te meld deur 082-466-7490 te skakel of so gou moontlik daarheen te gaan om ’n klag te lê en ’n verwysingsnommer te kry. Die GPF stel voor jy neem ’n video van die steurnis.
Vra altyd met wie jy by die SAPD praat en skryf sy naam, van en rang neer.
Kontak ook die Mangaung-metro se geraasbeheer-afdeling by 051-400-5322 of stuur ’n e-pos na riaan.nel@mangaung.co.za. Jy kan alle e-pos-korrespondensie aanstuur na die openbare beskermer by williamd@pprotect.org.