Die dag toe ek tussen hemel en aarde gesweef het

,

Vandag ’n jaar gelede het ek in die Drakensberg geval en altwee bene in my enkel gebreek. My skeenbeen het verbrokkel en ’n deel van my kuitbeen het by ‘n wond bokant my skoen uitgesteek. Mense vra my vandag steeds hoe dit gebeur het en of ek nou gesond is. Die antwoord is nie so…


Ek was daardie dag drie keer tussen hemel en aarde.

Kort voor die eerste keer het ek teen Gray se pas hoog in die Sentrale Drakensberg afgestap.

Die paadjie het geleidelik begin sig-sag na die kleinberg toe. Nog ’n hele ent om te gaan, maar Keith’s Bush Camp in die vallei wat ons na die kontroerpad sou neem, het al nader begin lyk.

Ons mikpunt was om die aand by Blind Man’s Corner te slaap en die laaste dag af tot by Monks Cowl te stap waar ons motors was. Daarna terug huis toe.

Vandag, presies ’n jaar gelede, was ons die middag net voor 12:00 op die  vierde van vyf dae waarop ons met rugsak, tent, kos en alles wat ’n mens nodig het vir so ’n uitstappie tot bo-op die magtige Drakensberg, op pad om middagete langs ’n koel bergstroom te geniet.

Die vorige dag het ons teen Gray se pas opgeklim en die aand op die eskarp geslaap. Ons was verbaas dat die afklim heelwat makliker was as wat ons ons voorgestel het.

Ek was in die middel van die groep. Effens ongewoon vir my wat meestal agter stap.Ek het uitgesien na die middag se lekker stap al met die kontoerpad langs tot by ons oornagplek.

Die oggend se woeste wind het begin afplat. Ek het oor ’n ronde paal wat ‘n trappie in die paadjie vorm, getrap. Iets het skeefgeloop. Die volgende oomblik het ek kop eerste teen die grashelling begin val  – swaartekrag wat my en my swaar rugsak onkeerbaar teen die berghang aftrek.

Ek het besef EK MOET STOP. . . die berghang is nog baie ver en styl tot onder.

Ek het na kort graspolle gegryp. Iewers in die harwar het my kop teen die grond gestamp. Ek het besef EK MOET STOP. . . die berghang is nog baie ver en styl tot onder.

Kampeerders by Keith’s Bush Camp voordat hulle die volgende oggend teen Gray se Pas uitgestap het.

Of dit bewustelik was of bloot net my eerste liggaamsdeel wat kontak moet Moeder Aarde gemaak het, weet ek nie, maar ek het byna onmidellik tot stilstand gekom.

Ek het teen die styl helling gesit-lê –  my voete in die lug. Besef daar is groot fout.

Bloed het uit my regterenkel gestroom en my voet het hopeloos te veel na regs gehel.

Drie van my vriende was ’n ent voor my in die paadjie.

“Petro, my voet is af. Regtig,” het  ek na my vriendin Petro Engelbrecht geroep.

Sy het omgekyk en ons het op daardie oomblik geweet ek gaan nie teen daardie berghang opstaan nie.

Ek het versigtig my rugsak losgeknip en dit langs my teen die hang neergesit sodat dit nie verder afgly nie.

Petro Engelbrecht en Lientjie Mentz toe die helikopter in die berg
aangekom het voordat hy na die vallei kon vlieg het om te land.

Net ’n maand vroeër het ’n vriendin van ons ook hoog op ’n berg in die Karoo geval en haar skouer gebreek. Ek het hierdie situasie onlangs beleef   –  dié keer was ek net self die pasiënt. Ek was baie helder. Geweet ek moet dadelik pynpille inkry al het ek in daardie stadium geen pyn ervaar nie. Ek het net gevoel my voet voel los van my been.

Petro het teen die graswal opgeklim tot by my en daar teen die styl graswal het sy my voet verbind. Sy het agter my kom sit en my vasgehou om te keer dat ek self nie verder teen die hang afgly, sou ek begin duislig raak nie.

Ek sou later hoor die enigste rede waarom sy en Trix (Roux) nog op daardie oomblik binne sig van my was, was omdat ons stapmaat Martin (Austin) sekondes voor my geval het. Hy het ook sy been gebreek en sy enkel sleg seergemaak. Hulle wou hom help, ek óók om hulp roep. Niemand het my ooit sien val nie.

Ek moes hope adrenalien gehad het ná my val. Alles het gevoel of dit binne ‘n paar minute gebeur. Trix kon ’n ent bokant ons in die berg selfoonsein kry en sy het die noodreddingsdienste gebel wat ’n helikopter gestuur het om ons daar teen die berg te kom oppik.

Terwyl die paramedikus Stephen Richert van Mountain Rescue nog teen die berg opgeklim het van waar die helikopter in ’n gelykte naby Keith’s Bush Camp geland het, het nog ’n stapgroep gekom met ’n dokter Lena-Marie Botha wat deel van hul geledere was. Sy het tot by my  geklim my voet se pols kom voel. Sy het gesê die belyning van die voet lyk goed en sy kan die pols voel. Vir die eerste keer het ek moed gekry dat ek nie my voet sou verloor nie.

Eers toe die noodreddingswerker by my kom en vir my ’n soort narkosemiddel  gegee het om in te asem, het ek besef ek hoef nie meer in beheer te wees nie. Stephen het my voet tydelik gespalk en hulle het my op ’n draagbaar gekry en tot in die paadjie geskuif waar hy aan my voet kon werk.

Stepen en Lena het saamgewerk en hulle het vir my ketamien ingegee voordat hulle begin het om my met ’n draagbaar teen die berg af te dra.

Dit was toe ek dié dosis ketamien inkry, dat ek weer die lug in is.

Stappers klim uit teen Gray se Pas in die Sentraal Drakensberg.

My ketamiendeurdrenkte brein het my en die stappers teen die hoë berge opgeneem. Oor die bergpiek het iets gewag wat ons nie geken het nie. Die berge was selfs nog groener. Die kranse nóg hoër en die lug skemeraand pienk met sagte sonstrale wat op ons rus. Ons het bo-oor die berge gesweef op pad na ’n ander dimensie.

Ek het nie in daardie dimensie aangekom nie. Dit was een van die vreemdste oomblikke in my lewe. ’n Werklikheid wat skielik in ’n droom verander.

Ek het uit die “droom” begin ontwaak toe iemand hier langs my “slang!” skreeu en ek voel hoe ek heen en weer op die draagbaar kantel soos die ses draers gevaartes soos ‘n slag en gate probeer mistrap. Weer in die lug, maar die keer met twaalf voete wat sukkel-sukkel die grashelling vir sowat 100m afklim.

Oor hoë graspolle tot doer onder waar die helikopter wag om my na die ambulans aan die onderpunt van die berg in die Champagne Valley te neem.

Martin Austin en Lientjie Mentz in ‘n vrolike luim bo-op die Drakensberg
die dag voordat albei geval en hul regterbene gebreek het.

Miskien was Martin saam met my in die groep wat so deur die lug oor die bergspitse gesweef het. Vir my benewelde brein was die grootste verrassing toe hulle my in die ambulans laai en daar sit hy. Spalk om die voet en in groot pyn. Twee afpootjies wat genoeg gehad het van deur die lug trek. Op pad na die hospitaal en beterskap . . .

You need to be Logged In to leave a comment.