Bloembledon! Bloemfonteiners wat gaande is oor tennis kan hulle regmaak vir hul eie Wimbledon op ’n grasbaan net buite die stad.
Spelers, ondersteuners en almal wat die sportsoort geniet, kan uitsien na die Wolf Pack-tennisakademie se eerste grasbaantoernooi. Dié prettige geleentheid word op Saterdag 8 Julie op die gras by die Marieko-landgoed in Bainsvlei aangebied.
Dawid en Judette van Niekerk van Wolf Pack sê dit gaan ’n dag vol pret wees, met van beginners tot ervare spelers wat kan deelneem.
“Dit gaan ’n dag wees met lekker sosiale wedstryde,” sê Dawid.
“Almal wat gaan deelneem, word uitgedaag om soos hul gunsteling-Wimbledon-speler aan te trek. Dit is iets lekkers om te doen vir tennis-geesdriftiges hier in die middel van die Wimbledon-toernooi.”
Afdelings waarin kinders deelneem, is: o.9, o.11 en o.13. Spelers van 14 tot 18 jaar oud neem in die senior afdeling deel en volwassenes speel in gemengde dubbelspare.
Deelname kos R350 per speler en R500 per gemengde dubbelspan.
Wedstryde begin om 07:30, en spel sal duur totdat al die wedstryde gespeel is. Daar sal pret langs die baan wees, asook ’n kosstalletjie met eetgoed.
Rig navrae oor die toernooi aan Dawid by 084-584-4345.