Met ’n hele paar dinge in die lewe is dit só dat jy met jou hele wese kan glo dat iets die regte ding is om te doen – maar jou hart, o, die hart.

Ek verstaan dat dit beter vir ’n mens se gesondheid is om vegetaries te leef. Of dalk selfs as pesketariër, semi-vegetariër, ovo-vegetariër, lakto-vegetariër, vrugte-eter of iets dergeliks. Ek weet dat dit beter is vir die ganse wêreld.

Ek onderskryf in die algemeen die beginsels van ’n lewensbenadering wat die minste skade aanrig, en ek sou dit selfs met oortuiging verkondig en aanmoedig. Soms raak ek nogal ywerig hiermee, soos die keer toe ek die kos van ’n besonder gewilde wegneemrestaurant afgesweer het, eerlik oortuig dat dit ’n verskil sou maak. Of, ten minste, dat ek met ’n skoner gewete sou kon gaan slaap.

Die aanloop hiertoe berus op die ou, ou storie: Iemand wat voorheen vir ’n rukkie ’n hoenderboerdery help bedryf het, het eenvoudig verduidelik hoe dinge werk om dié arme wesens so blitsvinnig vir die deurry-restaurant groot te maak.

Enigeen wat hier lees, kan seker tot my skaamte raai: As ek daardie voorneme deurgevoer het, sou ek nie nou hierdie rubriek sit en skryf het nie.

Ek het myself al probeer oortuig dat dit oor klein keuses gaan. Die eenvoudige besluite wat jy neem, soos die soort waarvoor jy te staan kom wanneer jy in die algemeen gesonder probeer eet: water in plaas van gaskoeldrank; volgraan teenoor wit; slaai eerder as skyfies wanneer jy iets by ’n restaurant bestel; vrugte as peuselhappie in plaas van koffie en ’n koeksister of drie.

’n Terrein waarop hierdie beginsel wel vir my in die vegetariër-arena vlot, is met pizza-bestellings. Van my gunsteling-pizza-keuses is vegetaries. Ek verlustig my maklik in ’n kersietamatie en ’n spatseltjie pesto. Ek is avontuurlustig genoeg vir spinasie of eiervrug. Ek gril nie vir warm pynappel, avokado of aspersie nie. Gee my ’n olyf en ’n songedroogte tamatie en ek is oortuig.

Dit is heel gaaf, dié ingesteldheid. Dit kan hou, maak ek myself wys. Dan onthou ek uit die bloute my goeie vriende die Meksikaan en Ben Hur, of hunker my hart skielik na gunsteling-plekke wat ek nog nooit besoek het nie, soos Hawaii en Colorado.

Iemand sê nou die dag dat hulle geen beswaar teen vegetariese kos het nie. Moet dit asseblief net nie soos vleis laat lyk en my probeer flous nie, meen sy egter. As ek ’n groente-besigheid eet, wil ek daarvan weet – dit is die beginsel.

Kan ek myself hiermee vereenselwig? Dit pla my nie soseer dat ’n ander ding hom soms as vleis voordoen nie. Ek stel myself heel gewillig oop om uitoorlê te word. Weet net, my hart gaan weet. Hy gaan, hoe ongevraagd ook al, verlang.

Sentraal24, waar ek sub is, se kantoor is reg bo ’n slaghuis geleë; in ’n straat waarin nog ’n slaghuis is, wat kruis met ’n straat met nog ’n paar hiervan. In dié stad is daar een om elke hoek en draai. Byna elke kruidenierswinkel spog met ’n uithaler-vleisafdeling, op sypaadjies word daar gebraai asof dit agterplase is, en biltongwinkels staan oral tussenin soos waterpunte langs die lang pad vir enigeen wat vrees dat hulle die wedloop sonder versterking sal moet voltooi.

Nou vra ek jou: Hoe vergeet ’n mens?

Laat ek dit nou maar duidelik stel, dat dit sonder enige twyfel verstaan word. In dié maand van die liefde sal ek wel keer op keer my hart verloor – om die beurt op sosatie, skilpadjie, hoendervlerkies en die res.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article