Alle kinders tussen ses en 15 jaar oud in en om Bethlehem in die Vrystaat moet dringend teen masels ingeënt word omdat die Thabo Mofutsanyana-distrik nou die hoogste infeksiesyfer van dié siekte toon.
Elke de Witt, waarnemende woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die departement het dit geprioritiseer omdat dit nie tot die nasionale veldtog teen masels van 6 tot 20 Februarie kan wag nie.
“Dit is om die toename in gevalle in die provinsie hok te slaan.”
Daar is tans 12 aktiewe gevalle in die Vrystaat.
Die aanvanklike uitbreking was in die Thabo Mofutsanyana-distrik, maar masels kom nou ook voor in die Gariep-distrik (een geval in Springfontein), die Fezile Dabi-distrik (een in Frankfort) en die Lejweleputswa-distrik (’n geval in Welkom).
Ál die gevalle is by kinders jonger as vyf jaar oud aangemeld.
Mediese spanne sal skole en kindersorgsentrums in en om Bethlehem besoek om die kinders in te ent. Ouers word versoek om hul samewerking en die nodige toestemming vir die inenting in die skole en sentrums te gee.
Mediese spanne sal skole en kindersorgsentrums in en om Bethlehem besoek om die kinders in te ent. Ouers word versoek om hul samewerking en die nodige toestemming vir die inenting in die skole en sentrums te gee.
Onderwysers is gevra om op die uitkyk te wees vir leerlinge wat simptome van die infeksie toon, naamlik kouekoors, ’n uitslag, ’n hoes, ’n loopneus en/of rooi oë. Die relevante owerheid moet dan dadelik in kennis gestel word.
In nog ’n stap om die infeksies te stuit word mense nagespoor wat in kontak was met die kinders en deur reaksiespanne getoets. Diegene sonder simptome word ingeënt.
Gesondheidsdienste in die Thabo Mofutsanyana-distrik werk saam met munisipale gesondheidsbeamptes om die skole op te lei oor simptome van die siekte om gesondheidsonderrig te verbeter, sê De Witt.