Die Helen de Munnik-tak onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Koekversiergilde het op 10 September sy jaarlikse demonstrasiedag aangebied nadat die pandemie dit twee jaar lank gekelder het.
Sowat 160 gaste het die geleentheid in die saal van die NG kerk Onze Rust bygewoon.
Demonstreerders van Gauteng en Bultfontein het hul vaardigdhede met almal kom deel.
Marieta James, sekretaris van die tak, vertel daar was ook ’n “gas” van Soutpan, Aunty Souf (Sarie van Tonder) wat groot vermaak verskaf het tydens beurtkrag. Sy het meegeding teen Helma Holloway, die president van die Suid-Afrikaanse Koekversiergilde, en Veena Gowan, die skakelbeampte van die plaaslike tak.
“Gaste het hierdie vertoning terdeë geniet waarby die ‘aunty’ die twee vroue uitgedaag het om ’n koek te versier. Natuurlik het ‘Aunty Souf’ gewen ná ’n paar poetse wat sy gebak het.”
Verskeie winkels het hul ware uitgestal waar almal die geleentheid gekry het om hul koekversier-voorraad aan te vul.
“Dankie aan elkeen wat dit moontlik gemaak het om die dag so ’n groot sukses te maak,” sê James.
Sy sê die tak onderneem om weer volgende jaar so ’n demonstrasiedag aan te bied.
Rig navrae oor die tak se bedrywighede aan Yolanda Saaiman, voorsitter, by 083-441-4863.