Hierdie somer is genadeloos warm.
Veral vir Lovey.
Haar Labrador-bruin oë kyk moeg van waar sy in die koelte lê en wag vir die huis-toe-kom motor. Wanneer ons tuis is, lê sy onder die kombuistafel. Al is dit warmer daar as buite. Haar plek. Haar mense. Haar lewe. Hier het sy twee kinders se huiswerkmiddae beluister en beleef. Genoeg gehoor om ’n graad te voltooi. Ingeluister op middagete-geselsies. Soms ’n skelm stukkie oorskietkos gekry van iemand wat gedink het dat niemand kyk nie.
Deesdae hoor sy nie meer mooi nie. Partykeer skrik sy regop as iemand haar kop onverwags streel. Haar laaste waghondselfvertroue gestroop. Haar trotse higiëne word afgetakel deur die meedoënlose metronoom van tydsverloop. Dan en wan bly ’n klam kol op die vloer wanneer sy opstaan. As sy bewus raak stap sy met hangheupe deurwaarts. Waaistert haar dankie terwyl sy stram uitstap. Die hondepille word harder om te eet. Sagter blikkieskos help aanvanklik; maar selfs dit raak moeilik.
Ten spyte van haar fisieke agteruitgang kom groet sy elke keer as ons by die hek stop. Waaistert. Heet almal welkom terug op haar werf. Sy bring nie meer stokkies, takkies en klippe vir geskenke nie. Sy stap saam vanaf die motorhuis, hardloop nie meer vooruit nie. Stop soms halfpad om te rus of ’n leksel water te sluk.
Ons vermy die onafwendbare gesprek.
Drie maande gelede moes ons ma, ouma en skoonma ouetehuis toe. Met Bybel, rolstoel, bril, boeke en valstande is sy na die versorgingseenheid. Agter haar ’n kamer vol herinneringe, ’n huis vol stories. Die ouetehuis ’n hand vol sand vir haar uurglas.
Op ’n doodgewone Donderdagoggend besef ons Lovey se uurglas is leeg. My seun moet Smithfield toe vir ’n motorlisensietoets. Hy groet Lovey eerste. Ons stel uit. My vrou gaan eers werk toe. Kom dan terug. My dogter gaan ook saam. Lovey stap gedweë saam na die motor. ’n Verrassing! Sy kan saamry. Ek help haar met die sukkelende agterbene. Sy maak plek vir my dogter op die sitplek. Sy kyk nie by die venster uit soos ’n jong hondjie nie. Sien dus nie hoe die hek wat sy vir soveel jare so mooi opgepas het ’n laaste keer vir haar oop- en toeskuif nie. Sy weet nie waarheen ons op pad is nie.
Sy hoef nie.
Sy kon ons nog altyd vertrou.
Ons stop. Klim uit. Ek, my vrou, my dogter. Lovey stap saam. Geen leiband nodig nie. Sy kyk rond. Haar laaste waghond-plig, al weet sy dit nie. Alles lyk veilig. Daar is mensgesprekke. Ek sit haar op ’n skaal. ’n Man met ’n wit jas.
Ek tel haar op die tafel.
Na al die jare saam weet sy dat sy ons met haar lewe kan vertrou.
Die man met die wit jas skeer haar beenhare.
Die eerste prik van die naald maak haar seer. Sy ruk. Maar haar mense is hier. Dit kan nie so erg wees nie.
Tweede prik. Die spuitnaald raak leeg.
Lovey se oë ook.
Hierdie somer is genadeloos.