Mia Kahts in Die Skuldeiser.Foto: Verskaf


Die Vrystaat Kunstefees is van vandag af in volle swang op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en bied vanjaar ’n opwindende verskeidenheid produksie.

Een daarvan is ’n splinternuwe Afrikaanse weergawe van August Strindberg se befaamde toneelstuk Fordringsägare, wat in die moderne era bekend staan as Creditors.

Die titel van hierdie vernuwende produksie is Die Skuldeiser, waarvan die vertaling en modernisering van die stuk, sowel as die regie, deur Bloemfonteiner Jean-Pierre Paquot gedoen is.

Strindberg het eens self gesê dat hierdie sy mees volwaardige en omvattende toneelstuk is, en dit is al in verskeie tale opgevoer, insluitend ’n moderne Engelse weergawe wat in 2008 deur Alan Rickman geregisseur is. Hierdie is egter die eerste keer dat die stuk in Afrikaans opgevoer sal word.

Die teks is vertaal en aangepas om klem te plaas op die tema van giftige verhoudings, ’n tema wat klaarblyklik net so relevant vandag is as in die negentiende eeu.

Die Skuldeiser se krag lê in die uitbeelding van die drie hoofkarakters wat elk gedryf word deur hul emosies en behoeftes.

Die rol van Adolf word vertolk deur Tiaan Gerber. CW Laten vertolk Gustav, ’n karakter wat ’n magtige en verkullende invloed op Adolf uitoefen. Mia Kahts bring Tekla tot die lewe – ’n vrou verstrengel in ’n vernietigende spel van emosionele manipulasie.

Die produksiespan het nie net uitstekende akteurs nie, maar spog ook met ’n bekwame span agter die verhoog. Die verhoogbestuurder, Elizri Malan, het haar vaardighede en toewyding getoon deur die vloei van die produksie te verseker en WJ Smit is verantwoordelik vir die grimering en haarontwerp, wat die karakters se innerlike gemoedstoestande uitbeeld.

Die opvoerings van Die Skuldeiser vind Woensdag (12/07) om 20:00 en Saterdag (15/07) om 20:30, by die Kunstetrust Rep-Teater as deel van die Vrystaat Kunstefees plaas.

Kaartjies is aanlyn teen R80 by WebTicket beskikbaar en R100 by die deur.

Die Kunstemark is ook van vandag af oop op die kampus rondom die Callie Human-sentrum en Eksamensentrum.

You need to be Logged In to leave a comment.