Die stryd vir beter lewe duur voort, sonder einde

Ek stap deur die inkopiesentrum en ervaar ’n ongekende hartseer. Toegeplakte winkelvensters. Besighede wat nie besig genoeg was nie. Entrepreneurs wat hul bes gedoen het om nog net één maand oop te bly, ter wille van hul werkers. Nagte van wonder en


Ek stap deur die inkopiesentrum en ervaar ’n ongekende hartseer. Toegeplakte winkelvensters. Besighede wat nie besig genoeg was nie. Entrepreneurs wat hul bes gedoen het om nog net één maand oop te bly, ter wille van hul werkers. Nagte van wonder en hoop. Planne met beurtkrag. Planne. Planne. Planne.

Helaas, die kliënte daag nie op nie.

Die werkers: Uiteindelik word die inventaris uitverkoop, die werkers gaan weerloos op lang busse huiswaarts. Dalk ’n paar maande se salaris. Dikwels met ’n uitstekende getuigskrif. Harde werker, talentvol, vriendelik, medemenslik – tog werkloos.

Moes harde werk nie beloon word nie?

Die entrepreneur: Tuis is dit die druk van betekenisloosheid. ’n Warboel gedagtes vasgevang in hoe om haarself van die skuldstrik te bevry. Destydse drome word nagmerries oor hoe om kos op die tafel te kry.

Die kliënt. (Ek). In afsonderlike gevalle gesels ek met winkelassistente wat weet dat hulle hul werk gaan verloor.

“Ons maak die einde van die maand toe.”

Ek hoop dat daar iets anderkant die maandeind-gesigseinder wag: “Wat gaan jy doen?”

’n Glimlag wat hoop dat die onafwendbare nie gaan gebeur nie: “Ek sal maar huis toe gaan.”

Ek het iewers voor die huidige politiek-ekonomiese krisis gelees dat die meeste middelklasmense drie maande van bankrotskap weg is. As jy jou werk verloor, het jy drie maande, dan kom die skuldeisers en beslag-leggers en begin jou meubels, motor en huis onder jou uitverkoop – terwyl jy jou trots sluk, depressie probeer vermy en jou kinders se verwytende oë seer aanskou. Dikwels die lot van iemand wat juis min tyd by die gesin spandeer het – omdat hulle ’n sinkende reddingsboot bo die water probeer hou het.

Vir die werkersklas is dit erger. Die honger begin die dag as jy by jou werksplek uitstap.

Buite die winkelsentrum wag bedelaars – ’n geldjie nodig vir brood, of wie weet, dalk tik of gom? Maak dit saak? ’n Tipe honger moet gestil word. Is die vrywende hand oor die maag van regte honger of is dit emosionele afpersing?

Die motorwag se oordrewe handgebare is ’n smeking om gesien te word. Tussen die parkeergeldmasjien, die motorwag en die bedelaar besef mens dis duur om winkels toe te kom – jy besluit om minder te kom.

En die siklus herhaal vir die volgende entrepreneur: Minder mense, minder besigheid, en die vraag: Moet ek maar my deure toemaak?

Saans ry gekwelde entrepreneurs, bestuurslui, en werkers op verskillende roetes na verskillende tuistes. ’n Moerige moegheid wat draal terwyl ons by beurtkrag-kruisings wag vir die verkeer om weer te begin vloei. By die verkeerslig draal die motorradio nuusbulletin met ’n ekonoom wat vertel dat petrol- en dieselpryse styg. Inflasie styg. Koopkrag word minder. Dis winterskemer buite.

By die brug op pad lughawe toe is daar ’n verweerde verkiesings­plakkaat: “A better life for all.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.