Die afgelope tyd kuier my onthou kort-kort rond in ’n era van my lewe langer as dertig jaar gelede. Ek kan geeneen van hierdie grepe wegbêre nie, want die lig wat in daardie tyd vir my opgegaan het, loop vandag steeds saam met my die pad.
Jong skooljuffrou van Johannesburg, gelok Bloemfontein toe deur die liefde, het ek spoedig besef dat dit nie net die liefde van die hart nie, maar ook die groeiende liefde vir my nuwe tuiste is wat my sommer voortvarend gelukkig maak.
Voor op die wa het ek op ’n dag, nadat ek verby die mooi ou Volksblad-gebou gery het, gebel en gevra of ek toegelaat sal word om die plek te besoek. Ek is ’n taaljuffrou, nuut in die Vrystaat, en ek hou van skryf.
Nodeloos om te sê, ek was stom van skrik toe ek die boodskap kry dat ek vroeg die Vrydagaand ’n draai kan kom maak, die redakteur sal sommer self met my gesels. Daardie uurlange kuier was vir my so oorweldigend, ek onthou dat my laaste woorde aan Hennie van Deventer was: “Dankie, Oom.”
Twee jaar later het my pad na Naln gelei. Ek onthou so goed, ek het tydens middagete by Otto Liebenberg se kantoor ingestap en vir hom gesê dat ek baie graag daar sou wou werk.
’n Maand later het ek agter my tafel ingeskuif, en só het ’n inkbelaaide tydperk vol papierskatte en ou houtreuke – en stories en nogmaals stories – deel van my lewe geword vir vyf onvergeetlike jare.
Die lewe het my daarna op reis geneem na lande ver van my stad en sy mense, my koerant en my tafel waar ek die Waterman-ink kon ruik, wanneer ons opgewonde oor ’n nuwe boekskenking buig. My drome, onthou en verlang het steeds in my moedertaal gebeur, en dit het ook saam met my die pad gevind terug huis toe.
My eerste storie wat geplaas is in die gedrukte Volksbladhet, ironies genoeg, vertel van afskeid – die weggee van ’n rooi Bloemfonteinjas wat my vir jare in die vreemde moes warm hou. Ek onthou die verwesenheid toe ek kort daarna, op 8 Augustus 2020, voor die kafee staan met die laaste papier-Volksblad in my hand. Ek kon sweer ek ruik Waterman-ink toe ek in my motor klim.
En toe, 18 digitale maande later, met Voortrekkerstraat se koerantdeur op slot, sluit Naln op ’n Vrydagaand ’n nuwe kamer oop om die oue te onthou. Met moderne tegnologie word die goeie ou dae onthou, ons ruik weer ink, en ons luister na staaltjies van leiers wat ons nuus gedra het deur die virus van die tyd. Ons vind ons pad deur beurtkragdonkerte met kerse en feetjieliggies na die nuwe oop Volksblad-kamerdeur. In die jare wat kom, sal ons weliswaar ons fone uithaal om ons nuushongerte te stil, maar ons sal steeds ’n tikmasjien hoor kletter, ’n bladsy hoor ritsel en ink aan ons vingers ruik.
Met die groetslag op dié Vrydagaand draai ek om en kyk nog ’n keer na die mooi ou Goewermentsgebou, tuiste van Naln. Ek dink weer aan ’n vorige Vrydagaand, langpad terug, in Voortekkerstraat. En ek groet sag: “Dankie, Oom.”