Matrikulante en voorgraadse studente kan hulle nou reeds inskryf vir ’n heerlike studentekamp vroeg volgende jaar.
Marlou Strydom, bemarkingshoof van die Kougom-komitee, sê in ’n nuusverklaring studente kan hulle regmaak vir ’n buitengewone reis van inspirasie, verbinding en transformasie op die Kougom-studentekamp in 2024.
Die kamp vind van 12 tot 15 Januarie op die Mooigenoeg-kampterrein buite Bloemfontein plaas.
“Die kamp gaan ’n ervaring wees vir voorgraadse studente uit alle fases van hul lewe,” sê Strydom.
“Kougom 2024 is nie jou tipiese kamp nie – dit is ’n viering van gemeenskap, vertroue en geestelike
groei. Met aktiwiteite en spanbou-oefeninge,
aanbiddingsessies, meditasie-sessies, en ’n Bybel-vasvra, bevorder die kamp verhoudings onder die deelnemers.”
Die tema van die kamp is: “Die tyd is nou”.
Die idee is om studente te inspireer om deur hul geloof in Christus op te staan as die leiers van môre.
In ’n opwindende ontwikkeling is Kougom 2024 weer oop vir alle voorgraadse studente om meer as net eerstejaarstudente in te sluit. Dit sluit aan by die doel om ’n groter Christelike gemeenskap te skep waar studente tot die ouderdom van 25 kan aansluit, geestelik kan groei, en bemagtig kan word as toekomsleiers.
Studente kan hul plek verseker deur aanlyn te registreer by www.kopanongchurch.org/kougom. Registrasies is oop tot 8 Januarie.