Luco Crispin met die horlosies wat hy uit herwinde materiaal maak.

Lientjie Mentz

Franse Mark

Die ligte van The Brassball Co.
Hy is heeltemal gefassineer deur tyd. Die verloop van tyd, die invloed van tyd op hoe jy dink en voel, wat alles oor ’n tyd gebeur. . .

Luco Crispin se handgemaakte, unieke produkte is bekend op die Franse Mark.

Elke horlosie of lig is uniek, gemaak van ’n wye reeks herwinde voorwerpe – maar elkeen ’n kunswerk op sy eie.

Luco vertel hy het grootgeword in Allenridge en daar moes hy homself maar besig hou.

“Ek was altyd lief daarvoor om dinge uit mekaar te haal. Te kyk hoe dit werk.”

Vir hom is iemand se weggooigoed soms mooigoed wat ’n nuwe lewe in ’n heel ander vorm kry.

Hy vertel dat hy vir jare dinge gemaak het, tot sy vrou hom eendag aangemoedig het om sy kunswerke te verkoop.

“Ek het ’n kans gevat en op die Franse mark gaan uitstal. Dit is daar wat ek die selfvertroue gekry het om my produkte vir ander mense te wys.”

Vandag maak hy sy kunswerke onder die naam The Brassball Co. wanneer hy ’n tydjie het – en tyd is nie so baie as ’n mens heeltyds ’n begrafnisondernemer is nie.

Baie van sy horlosies is gemaak van die deksels van ou elektriese motors.

“Ek gaan kyk graag by skrootmetaalplekke en loer gereeld in skips langs die straat vir iets interessant wat my aandag trek – tot my kinders se ontsteltenis,” lag hy.

Elke horlosie se voetstuk is iets anders en uniek. Elkeen het ’n storie – al is dit net ’n storie wat Luco daaraan toedig.

“Vir my is die Franse mark ’n spesiale plek. Ek kry regtig altyd iets uit elke markdag. Of dit is dat ek iets verkoop het of bloot net ’n interessante gesprek met iemand gehad het. Daardie stukkies gesprek dwaal lank in my gedagtes.”

Die Brassball Co. is een van verskeie stalletjies wat Saterdag (05/02) op die Franse mark by Villa Avianto gaan wees.

Die oggend begin om 07:00 met ’n Spice Walk vir die flukses en daarna kan besoekers van 08:00 af die mark met sy interessante uitstallings, heerlike kos en drinkgoed besoek. Die mark duur tot 15:00.

Bloemnuus, deel van Sentraal24, is vanjaar die amptelike mediaborg van die Franse mark.
Franse Mark

Een van die pragtige horlosies.

You need to be Logged In to leave a comment.