Dié wat was, leef ewig

Die onkruid verberg byna die grafsteen.


Die onkruid verberg byna die grafsteen.

’n Mens kan net-net die naam uitmaak en dat die man 45 jaar oud geword het. ’n Mooi boodskappie – waarskynlik deur familielede.

Dit is so hartseer dat begraafplase in talle dorpe en stede oor ons land heen in so ’n skokkende toestand is.

Jy sien die perfek versorgde begraafplase in Europa en Amerika en wil jou kop in skaamte laat sak.

Dat daar so min respek in ons land is vir die mense wat voor ons hier was.

Tog is dit nie ’n naam op ’n grafsteen wat jou laat bly voortleef nie: Dit is herinneringe wat ander van jou het.

Daar is mense met wie ek ’n diep band gehad het wat dikwels in my gedagtes opduik. Gedagtes vlietend, maar kosbaar.

Dan is daar die talle mense wat ek deur die werk ontmoet het, wat net eendag nie meer daar was nie.

Dierbare mense wat vir my wenke gestuur het of wie se lewe op die een of ander manier met myne verweef geraak het. Mense soos Rufus Botha, Elsabe de Jager, Jan van der Merwe, oom Junior Bezuidenhout en nou onlangs Marie-Louise Nel . . . So baie ander.

’n Vriend van my het onlangs verjaar, en Facebook stuur toe vir my ’n foto uit sy Facebook-album.

Dit neem my ver terug. Na ’n reis-storie wat ek geskryf het. ’n Paar van ons het saam met wyle Johan Hattingh van die SUT, bekend vir sy liefde en passie vir toerisme en geskiedenis van Bloemfontein en die Vrystaat, deur die stad se strate in sy spoggerige limousine getoer.

Ons klomp het soos wafferse miljoenêrs agter in dié motor gesit.

By die Vrouemonument het Johan van sy rykdom kennis met ons gedeel en daarna tot ons vermaak ’n bottel vonkelwyn met ’n lang mes laat oopskiet.

Met een foto het my gedagtes teruggegaan na daardie middag. Na die lang tyd waarin my en Johan se paaie dikwels gekruis het, totdat Covid-19 hom ontydig weggeneem het.

Daar is kosbare kollegas wat ons deur die jare ontval het. Mense soos wyle Nols Nieman, met sy aftrede ’n assistent-redakteur by Volksblad.

Kort voor my aanstelling by Volksbladmeer as twee dekades gelede was daar ’n foto van hom en die hoofredaksie in die koerant. Op dié foto het Nols vir my baie kwaai gelyk.

Hoe verkeerd was ek nie. Hy was ’n passievolle mens – met ’n groot omgeehart vir liefdadigheid en passievol oor geskiedenis en nuus.

Nols het my ingeboender in sy ywer om te berig oor liefdadigheid – my selfs ’n paar gesellighede laat reël om geld vir welsyn te help insamel.

Nog baie ander kosbare kollegas – soos Elma Maritz, André Botha met sy mooi radiostem en die kunssinnige Marlene de Beer.

Ek eer almal wat oor my pad gekom het en my ’n ryker mens gemaak het.

Elkeen wat iewers ’n blywende storie in my lewe en dié van ander geskryf het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.