Dit was ’n pikswart naweek vir Athalia-uitreik nadat daar by dié liefdadigheidsorganisasie wat na minderbevoorregtes omsien, se kantoor ingebreek is en drie skootrekenaars gesteel is.
Ans Coetzee, stigter en eienaar van Athalia-uitreik, sê niemand sal verstaan watter terugslag hierdie vir hulle is nie.
“Ons wil kos koop, nie rekenaars nie,” het sy Dinsdag (15/11) moedeloos gesê nadat daar oor die naweek by die organisasie se kantoor in Roselaan ingebreek is.
Personeel verduidelik die inbreker het waarskynlik iewers oor die naweek ’n venster by die kantoor wat effe oop gestaan het, oopgestoot en die diefwering aan die binnekant van die venster uitgestoot en daar ingeklim. Die inbreker het toe na bewering die drie rekenaars gesteel en by die skuifdeur uitgestap.
’n Saak van diefstal is by die polisie aanhangig gemaak.
Coetzee verduidelik Athalia versorg 160 mense in agt huise oor Bloemfontein heen.
“Geldelik gaan dit baie moeilik. Kos, elektrisiteit en alles word net duurder. Die meeste van die inwoners trek staatspensioen (Sassa) en dit het in April R90 opgegaan en in Oktober net R10. Ons het inwoners slegs ’n R60-verhoging gevra,” vertel sy.
Weens Covid-19 kon daar die afgelope drie jaar nie geldinsamelingsgesellighede plaasvind nie, hoewel daar reeds beplan word aan projekte vir volgende jaar soos ’n gholfdag op 21 Maart.
“Ons is baie dankbaar vir die skenkings van kos wat ons wel kry,” sê Coetzee.
Benewens die geldelike uitgawe daarvan om nuwe rekenaars te bekom, is ’n magdom van die administratiewe inligting wat op die rekenaars was, ook nou verlore.
Gelukkig is daar ’n silwer randjie met een donateur wat reeds aangedui het dat hy moontlik ’n rekenaar vir Athalia sal skenk.
“Ons het tegnologie nodig om ons werk te doen,” het Coetzee gesê.
Sy sê die rekenaars is nie verseker nie.