Die burgerregteorganisasie AfriForum beplan om eersdaags, bykomend tot sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein, ’n herwinningsdiens te begin sodat vullis nie op onwettige vullisterreine beland en die omgewing besoedel nie.
AfriForum lewer al sedert 2020 ’n vullisverwyderingsdiens aan inwoners van Bloemfontein.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentrale streek, sê vullisverwydering jaag sommige Bloemfonteiners maandeliks tot R600 uit die sak weens die Mangaung-metro se wisselvallige lewering van dié diens.
Grobbelaar sê talle inwoners word genoop om dubbele koste aan te gaan sodat private diensverskaffers hul vullis verwyder.
AfriForum lewer weekliks ’n alternatiewe vullisverwyderingsdiens aan inwoners en staan die gemeenskap by met hul aansoeke vir die staking van hul gebruik van die metro se vullisverwyderingsdiens sodat hulle eerder voortaan van private diensverskaffers gebruik kan maak.
Die burgerregteorganisasie het vandeesweek opnuut klagtes van inwoners ontvang oor die onbetroubare vullisverwydering in Bloemfontein.
Grobbelaar sê AfriForum het ingespring om inwoners se vullis te verwyder wat deur die munisipaliteit oorgeslaan is.
“AfriForum het al by verskeie geleenthede mense se vullis verwyder wanneer die munisipaliteit soms maande lank nie die diens gelewer het nie.”
Die sukkelende Mangaung-metro gaan al jare lank gebuk onder swak dienslewering, en in 2022 is die metro onder nasionale administrasie geplaas weens ernstige finansiële en diensleweringsmislukkings.
Hoewel die metro in 2019 deur die Vrystaatse provinsiale regering onder verpligte provinsiale administrasie geplaas is, en aangesê is om ’n streng finansiële herstelplan toe te pas, het die metro versuim om dit te doen.
Die munisipaliteit het onlangs die soveelste gekwalifiseerde oudit ontvang waarin verskeie probleme by die metro uitgelig is. Die ouditeur-generaal het tot die gevolgtrekking gekom dat die munisipaliteit miljoene rande op agterstallige betalings aan verskaffers in die vorige boekjaar verkwis het. Bykans R200 miljoen se onreëlmatige uitgawes is ook in hierdie tyd deur die metro aangegaan.
“Weens die huidige stand van die munisipaliteit se geldsake is dit onwaarskynlik dat die munisipaliteit in die toekoms vullisverwyderingsdienste op ’n volhoubare wyse kan verskaf,” sê Grobbelaar.
Die volgehoue swak dienslewering het AfriForum verlede jaar genoop om meer as 650 lede te help om aansoeke vir die staking van hul gebruik van die metro se vullisverwyderingsdiens in te dien. AfriForum het ook vroeër vanjaar regstappe teen die munisipaliteit gedoen om die metro te dwing om dié diens van inwoners se munisipale rekening te verwyder. AfriForum is in gesprek met sy regspan oor hierdie aangeleentheid en moedig inwoners aan om met die burgerregteorganisasie in verbinding te tree hieroor.
“Dit is onregverdig dat diegene wat ’n diens wil laat staak – veral een wat deur ’n onbetroubare munisipaliteit soos Mangaung gelewer word – forseer word om dubbele koste aan te gaan net om te verseker dat hulle vullis wel verwyder word. Inwoners het die reg om hul munisipale vullisverwydering te laat staak en dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder,” sê Grobbelaar.