Die Veterane-bystandfonds (VBF) bied op Woensdag 18 September ’n gratis middagete en musiek-konsert vir behoeftige nasionale dienspligveterane aan.
Philip Moolman, die VBF se ambassadeur wat self ’n dienspligveteraan is, sê hulle verwag op dié dag sowat 250 veterane by die Universitas-geloofsentrum.
Hy verduidelik die VBF is nie ’n militere organisasie nie, maar ’n nie-winsgewende onderneming wat geen ondersteuning van die staat ontvang nie. Die VBF is van openbare skenkings afhanklik, en die bydraes van die skenkers stel die VBF in staat om dié veterane geestelik en geldelik te ondersteun.
Pensioentrekkers wat hul pensioen van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontvang, sal ’n inkopie-geskenkbewys ontvang.
Belangstellendes kan plek vir hul bywoning bespreek deur hul ID-nommer en “Bloemfontein” per WhatsApp na 073-868-0781 te stuur.