Die eerste optrede van die Bloemfonteinse Alumni Voices-koor ná Covid-19 is ter herinnering aan Deon Lamprecht, wat in April oorlede is.
Leona Geldenhuys, stigter en leier van die koor, sê Lamprecht se uitdruklike wens was dat geen huldigingskonsert vir hom gehou mag word nie.
Dié voormalige hoof van die musiekdepartement aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het egter diep spore in die Vrystaat gelaat, wat ongetwyfeld ’n herdenking vereis.
“Ons omseil dus ‘huldigingskonsert’ met die titel Ons onthou/We remember Deon Lamprecht, ’n koorleier, mentor en orrelis,” sê Geldenhuys.
’n Verdere herinnering aan Lamprecht se uitmuntende koorleiding oor baie jare aan die UV is die liedere waaruit Geldenhuys die program saamgestel het. Dié liedere verskyn op Lamprecht se laaste CD, wat in 2004 uitgereik is en Kersliedere bevat.
“Dit is dus meer as gepas vir ons konsert einde November,” sê Geldenhuys.
Van die liedere is “The Lord’s Prayer” van Malotte, “Magnum Mysterium” van Lauridsen, “In the Bleak Midwinter” van Harold Darke en die John Rutter-liedere “Nativity Carol”, “Sans Day Carol” en “Jesus Child”, asook “Ave Verum Corpus” van Mozart.
Geldenhuys sê sy gaan oudkoorlede van Lamprecht en mense wat hom geken het uit die gehoor nooi om die laaste drie liedere saam te sing – die gewilde koorstaatmakers “Aandgesang”, “Magaliesburgse aandlied” en “Ons Vader”.
Jan Beukes, huidige hoof van die Odeion Skool vir Musiek (OSM), sal die konsert met ’n orrelsolo open en afsluit, en Hans Potgieter sal die koor op die klavier begelei.
Lamprecht het aan die UV musiek gestudeer en was van 1974 tot sy aftrede in 2005 ’n personeellid, waarvan die laaste 11 jaar as hoof.
Hy het met ’n onderwysdiploma begin en daarna BMus tot sy DPhil in 1991 aan die UV behaal. In dié jare het hy talle orreluitvoerings, ook saam met simfonieorkeste, gegee en menige prys in kompetisies ontvang.
Lamprecht was ook die dirigent van die Pro-Ecclesiakoor en die UV-koor.
In 1991 het die UV-koor onder sy leiding 14 uitvoerings in onder meer Zimbabwe, Bulgarye, die destydse Tsjeggo-Slowakye, Oostenryk, Switserland en Duitsland gegee.
Op aandrang van oudkoorlede het Lamprecht in 1993 die Alumni-kamerkoor gestig en in 2013 het Geldenhuys se Voices Inc met dié koor saamgesmelt, wat nou onder die naam Alumni Voices optree. Op dié manier leef Lamprecht se koornalatenskap voort.
In Bredasdorp, waar Lamprecht en sy vrou, Gerda, hulle in 2006 gevestig het, het hy ook sy stempel afgedruk en ’n oplewing in klassieke musiek en koorsang meegebring.
- Ons onthou Deon Lamprecht, Sondag (27/11) om 16:00 in die Odeion. Toegang is gratis.