Talle skape en beeste moes die afgelope naweek van kant gemaak word ná ernstige veldbrande in die Vrystaat.
Werner Botha, inspekteur van die DBV in Bloemfontein, sê die Bloemfontein DBV, die DBV van Virginia asook lede van die Nasionale Raad van die Dierebeskermingsvereniging het van Vrydag (25/08) tot Sondag bontgestaan om diere te help wat deur weghol-veldbrande geraak is.
Hulle het genadedood toegedien aan onder meer 160 skape en twee skilpaaie wat erg tydens die veldbrande by Thaba Nchu beseer is.
Veldbrande het ook die afgelope naweek in die distrikte van Boshof, Dealesville, Brandfort en Verkeerdevlei gewoed en talle diere het ernstige brandwonde opgedoen.
Verlede week het daar ook lank brande by Thaba Nchu en by Tweespruit gewoed en die DBV moes 28 beeste en twee perde weens dié brande van kant maak.
Johann Breytenbach van die Mangaung Fire Protection Association (Mafpa) het Sondag (27/08) nadat die brand in Brandfort geblus is, sy dank uitgespreek aan die span van Working on Fire wat gehelp het om die veldbrande te blus.
Hy sê ook groot lof moet gaan aan die DBV vir die groot werk wat hulle doen. “Hulle moes ongelukkig twee skilpaaie uitsit, maar hulle het ook skilpaaie gered.”
Botha het bevestig dat hulle sewe skilpaaie gered het wat erg gedehidreer was en terug sal gaan veld toe sodra dit met hulle beter gaan. Hy sê sover hulle weet, het daar nie wild in die Moria Moroka-reservaat in die brande daar seergekry nie. Byna die helfte van dié reservaat het vroeg verlede week afgebrand.
Botha sê die beeste en perde wat hulle by Thaba Nchu gevind het, was in ’n slegte toestand toe hulle in Bloemfontein aankom en hulle het die diere van kant gemaak om hulle verdere lyding te spaar.
Botha sê die DBV werk steeds ure lank om diere wat in brande seerkry, te help. Hulle het vandag weer in die Thaba Nchu-omgewing gery om te sien waar hulle hulp kon verleen.
Botha vra die publiek om diere wat ly by die nommer 078-322-8332 aan te meld.