Die gewilde blou hasie wat klein en groot laat skaterlag, is binnekort terug.
Xander Steyn-produksies van The Rabbit Studio bied op 6 en 7 Mei die tweede weergawe van Hans Haas se Hulpmiddels aan.
“Die haas en sy maats is sedert 2015 by kunstefeeste en oral tussenin te siene,” sê Xander.
“Dit is tyd dat hy weer ’n verskyning maak.”
Die produksie is aan die einde van 2020 opgevoer en was so gewild dat hy besluit het om die produksie – met nuwe teksgedeeltes en snaaksighede – terug te bring.
“As jy die produksie reeds gesien het, kom kyk weer – die kinders, mammas én mansmense gaan dit van vooraf geniet.”
Hans Haas, Paulina Papegaai, Grietjie Gans, Piet Padda, Bob Bobbejaan en Morrie Meerkat is terug en baie doenig in The Rabbit Studio. Hulle doen ’n nuwe TV-produksie wat raad en hulp aan al die maats op haaslaagte verleen.
Morrie Meerkat is vies omdat hy nie gevra is om op die program te verskyn nie – so hy bak weer poetse om die hele opname te pootjie. Maar gelukkig werk al die dieremaats saam om ’n suksesvolle eerste episode te voltooi.
“Moenie hierdie komedie vir die hele gesin misloop nie.”
Xander sê dit is nie nodig dat mense kaartjies uitdruk en saambring nie.
“Spaar papier! Jou naam sal op ’n lys by die deur wees. Net ’n beperkte aantal sitplekke is beskikbaar, so kry jou kaartjie so gou moontlik.”
- Kaartjies kos R50 en is op die webwerf rabbithouse.co.za beskikbaar. Die vertonings op Vrydag 6 Mei vind om 15:00 en 17:00 plaas, en om 10:00 en 12:00 op Saterdag 7 Mei.
“
Moenie hierdie
komedie vir die hele gesin
misloop nie
– Xander Steyn