Diereprater se eerste boek vertel verhale van lesse by diere geleer

Sedert haar kinderdae het Hettie Richter die besonderse vermoë om met diere te kommunikeer.


Sedert haar kinderdae het Hettie Richter die besonderse vermoë om met diere te kommunikeer.

Dié Bloemfonteiner wat in 2022 in kykNET se televisiereeks Dierepraters verskyn het, het pas ’n haar eerste boek uitgegee waarin sy die besonderse lesse wat sy by diere geleer het, neergepen het.

Die hardebandboek wat pas verskyn het Animal Whispers, bevat staaltjies oor diere waarmee sy oor die jare te doen gekry het en wat ’n besondere indruk op haar gemaak het. Dit is haar ervarings met ’n groot verskeidenheid diere – van perde, honde en voëls, tot olifante, pikkewyne, leeus en selfs ’n komodo-draak.

“Ek glo God het diere gestuur om my te help,” sê sy. “Diere help ons om ons laste met grasie te dra. Net soos mense, het elke dier ’n unieke persoonlikheid en ’n unieke lewensdoel.”

Hettie Richter, ’n Bloemfonteiner wat nou geskryf het oor die lesse wat diere haar geleer het.Foto: Verskaf

Richter sê sy het oor die jare sedert sy in 2006 begin het om heeltyds as diereprater te werk, talle stories op Facebook gedeel. Dit is van dié stories wat sy nou in Animal Whispers neergepen het. “Ek kan maklik nóg ’n boek met kosbare stories vul,” sê sy.

Sy werk grootliks van foto’s af. “As ek ’n dier se oë kan sien, voel ek ’n siel so eg soos my eie.”

Sy sê ’n mens kan nie met ’n dier kommunikeer deur jou kop te gebruik nie, net jou hart.

Een van die talle stories in die boek, is die van haar Jack Russel-kruising, Angel.

“Angel het haar eie naam gekies, maar sy was baie stout. Ek het vir haar en vir almal vertel hoe stout sy is. Toe ek dit eendag besef, het ek my boodskap aan haar verander. Ek het haar van toe af elke dag vertel dat sy oulik is. Dat ek baie van haar dink. Haar gedrag het verander.” Sy sê diere kry voortdurend inligting by ons deur ons gevoelens, ons woorde en wat ons dink.

Alida diTekenar van Swellendam was die kunstenaar wat ’n skets vir elke verhaal gemaak het.

Hettie se dogter, Skye (18) het die kleur van die omslag en die skets wat daarop moes kom, gekies.

Vir die komende jaar het Hettie sommer nog baie planne. Sy wil onder meer op haar eie Youtube-kanaal nog stories vertel soos dié wat op Dierepraters verskyn het.

Die boek Animal Whispers is beskikbaar op die webwerf hettierichter.co.za.

Een lesers staan die kans om ’n kopie van dié boek te wen. Besoek BloemNuus se Facebookblad om vir die kompetisie in te skryf.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.