’n Glasie vonkelwyn is geklink om die tiende bestaansjaar van die digitale planetarium op Naval Hill te vier.
Dié geleentheid op Donderdag 2 November is deur lede van die Vriende van Boyden en die Naval Hill-planetarium bygewoon.
Sedert die inwerkingstelling van die digitale planetarium ’n dekade gelede, kon Bloemfonteiners en besoekers weekliks insiggewende en verrassende rolprente oor die buitenste ruim en die sterrestelsel kyk.
Toe dié digitale planetarium op 1 November 2013 geopen is, was dit die eerste in Suid-Afrika. Vandag is die Naval Hill-planetarium een van drie in die land. Die ander twee is die Iziko-planetarium in die Wes-Kaap, en dié van die Universiteit van die Witwatersrand wat nou na ’n digitale stelsel opgegradeer word.
Die planetarium op Naval Hill is in die ou Lamont-Hussey-sterrewag gebou, wat in 1928 in Bloemfontein deur die Universiteit van Michigan opgerig is.
In 1975 is die teleskoop afgebreek en is die gebou in die Sterrewag-teater omskep, wat tot in 2000 deur die Performing Arts Centre of the Free State (Pacofs) as teater bedryf is.
In 2011 het die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Mangaung-metro ’n ooreenkoms aangegaan, waarna die planne vir die digitale planetarium onder leiding van prof. Matie Hoffman opgetrek is. Die projeksiestelsel en sagteware is deur Sky Scan installeer. In 2022 is die stelsel opgradeer en is nuwe laserprojektors in gebruik geneem.
Lamont en Hussey, na wie die sterrewag vernoem is, was kamermaats op universiteit, en Lamont het Hussey belowe dat as hy eendag ryk is, sal hy vir hom ’n teleskoop bou.
Lamont het die president van die American Steel Society geword en sy belofte gestand gedoen.
Hy het in 1920 met planne vir die teleskoop begin.
Die teleskoop is ’n 27 m-refraksie-teleskoop en is ontwerp vir die bestudering van dubbelsterre. Op pad na Suid-Afrika het Hussey in Londen longontsteking opgedoen en is hy oorlede voordat hy die finale teleskoop kon sien.
’n Kollega van Hussey, Alfred Rossiter, het vir 25 jaar dubbelsterre met die teleskoop in Bloemfontein bestudeer.
Met die afbreek van die teleskoop in 1975 is die lense terug na Michigan gestuur, met die buis wat in die veld op Naval Hill gelos is.
Braam van Zyl van die brandweer-museum het die buis vir lank in die brandweer-museum bewaar.
In 2018 het Arcelor Mittal (wat in die 1920 die staal vir die buis verskaf het) geld geskenk vir die restourasie daarvan en die oprigting voor die planetarium. Met die hulp van die UV se instrumentasie-afdeling is die buis as monument voor die planetarium opgerig.