Die senior wenners van AfriForum se Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie in Bloemfontein was die #Een(d)-span van die Hoër Meisieskool Oranje. Hier is van links Alana Bailey (AfriForum: hoof van kultuursake), Bea du Toit, Cara Conradie, Daniëlle Herbst en Nicolene Müller (AfriForum: Projekköordineerder vir Onderwyss).Foto: Verskaf


AfriForum se Dink of Sink-span het op 22 Augustus die laaste van ses streeksuitdunne vir die Dink of Sink-onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerlinge by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein aangebied.

Die doel van die Dink of Sink is om debat in Afrikaans op hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Altesaam 78 hoërskoolleerlinge van nege hoërskole in die Vrystaat het aan die debatskompetisie deelgeneem: Oranje, die Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché, Grey-kollege (sekondêr), die Hoërskool Reitz, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Trio, Hoërskool Sentraal en die Hoërskool Bethlehem Voortrekker. Elkeen van die spanne het drie debatte oor verskeie onderwerpe met betrekking tot aktuele kwessies in hul omgewing en die land gevoer.

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie skep ’n geleentheid vir sprekers om hul kritiese denkvaardighede te ontwikkel en bied ook die geleentheid om lewenslange vriendskappe in debat te maak

“Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie skep ’n geleentheid vir sprekers om hul kritiese denkvaardighede te ontwikkel en bied ook die geleentheid om lewenslange vriendskappe in debat te maak,” het Renette van der Walt, die debatsorganiseerder van Oranje na afloop van die kompetisie gesê.

“Die onderwerpe was uitdagend maar steeds binne die hedendaagse tiener se verwysingsraamwerk.”

Hoërskool Jim Fouché se Gladdebek Gawies met Chenique Erasmus, Josua Deacon en Eben Sander is as die junior kategorie se wenners aangekondig, terwyl Oranje se Raakpraters met Miné Truter, Nina Bloem en Ellé Cloete die naaswenners was. In die senior kategorie het Oranje se #Een(d)-span met Cara Conradie, Bea du Toit en Daniëlle Herbst geseëvier en Oranje se Bek-ghoeroes met Brigitte von Maltitz, Jacomi van Tonder en Anabelle Laubscher is as naaswenners gekroon.

Die senior naaswenners was die Bek-ghoeroes Oranje. Hulle is van links Brigitte von Maltitz, Jacomi van Tonder en Anabelle Laubscher.Foto: Verskaf

Die Gladdebek Gawies van die Hoërskool Jim Fouché se junior span en #Een(d) van Oranje se senior span dring deur na die nasionale finaal wat op 5 Oktober in Pretoria plaasvind.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die hoërskoolleerlinge se toewyding aan hul voorbereiding. Ons sien baie uit na ’n naelbyteindstryd in Oktober wat gaan bepaal wie die beste onvoorbereide debatteerders in Suid-Afrika is,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys

Die junior wenners was die Gladdebek Gawies. Hulle is van links Chenique Erasmus, Josua Deacon en Eben Sander van die Hoërskool Jim Fouché.Foto: Verskaf

Die junior naaswenners van die Hoër Meisieskool Oranje, die Raakpraters, is van links, Miné Truter, Nina Bloem en Ellé Cloete.Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.