“Sien jy hoe mooi die son in Bloemfontein opkom?”
Daar leer buurman Fanus my weer ’n les, so oor die voorstedelike betonmuur tussen ons agterplase.
Dit is toe ek hom vir die soveelste vroegdag met ’n beker koffie in die hand die lug in sien staar, sonder om met sy selfoon doenig te wees.
“Ou Dirk, só kon dit nie aangaan nie. En dis die kind wat my dit weer laat besef het,” sê hy vir my.
Hy wys na sy selfoon wat eenkant, stil, op die draadtafel lê.
“Jy weet, elke oggend van my lewe gaan dié ding se wekker om 05:45 af. Dan sing Cat Stevens my wakker, eers sag, dan harder en harder: ‘Morning has broken’. Ek is nog altyd lief daarvoor. Maar ek het nie meer die woorde gehoor nie. Jy weet, ‘Praise for the singing, praise for the morning’, en al daai goeters. Dit het by my verbygegaan. Vir so lank, ek kan nie eens onthou hoe lank nie. Té lank.
“Jy’t my mos oggende hier sien sit,” sê hy en brei uit.
“Elke dag dieselfde. Water in die ketel, ketel aan, koffiemoer in die pot en koffie in die beker. En dan rol my wysvinger oor die skerm: Twitter, Facebook, WhatsApp, nuus, you name it. Om in te haal vir alles wat ek in die slapensure gemis het.
“Elke dag teen die tyd dat die kind klaar aangetrek was en my vir die trippie skool toe kom roep het, was ek so min of meer op die hoogte van die wêreld se dinge.”
Hy noem op.
Die oorlog in die Oekraïne.
Beurtkrag.
Politici wat van hier tot in Timboektoe aanjaag.
Jacob Zuma se gefemel.
“En die swetterjoel klagtes hier in die buurt oor Eskom, Mangaung, slaggate, asbliksakke wat nie afgehaal word nie. Jy weet mos.”
Toe, ’n week of wat gelede, sê die kind haar sê in die kar op pad skool toe, vertel Fanus my.
“Dit nadat sy oggend ná oggend al hoe stiller geword het in die kar. Té stil. Toe klink haar stem op: ‘Jy weet, Pa . . .’
“En sy vra my of ek ooit die mooi winterson so uit die kar uit sien. Dit het my geruk,” vertel Fanus terwyl hy kug-kug keel skoonmaak.
“Toe sien ek daai rooi son. En toe besef ek hoekom die kind so stil geword het. Want ek het soos daai gekarring op Facebook en Twitter en WhatsApp en you name it geword en geklink. Al swetsend en morrend oor die slaggate, oor die padvarke, oor die asblikke, oor die vuil sypaadjies, you name it . . . Sonder om langer die son raak te sien.”
Natuurlik pla die goed wat verkeerd is hom nog, sê Fanus. En hy bly op die hoogte van die wêreld en sy dinge – maar net so ’n bietjie later in die dag. Want om 05:45 lui die wekker en drink hy – vir die eerste keer in ’n te lang tyd – die woorde van “Morning has broken” in.
Saam met sy oggendkoffie drink hy eers die son in sy agterplaas in en dan weer op pad skool toe, saam met die kind wat ná haar lang stilte weer sprankel en gesels in die kar.
Fanus se kind was reg.
Fanus is reg.
Die dae is beter as jy soggens – tussen die sorge, probleme en die verval – die son en die mooi om jou regtig raaksien; as jy dit raak kyk.
Die Spreuke-digter het nie om dowe neute geskryf nie: “Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien . . .”