Die pretpark staan gereed en helder liggies herinner Bloemfonteiners daaraan dat Bloemskou om die draai is.
Ná ’n stilte van twee jaar kan skougangers van heinde en ver na ’n skouprogram uitsien.
“Die invloed wat die afgelope twee jaar op Bloemskou en alle betrokkenes, soos uitstallers en diensverskaffers, gehad het, kan nie in woorde omskryf word nie,” sê Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof.
“Diensverskaffers was ’n inkomstestroom kwyt en die plaaslike ekonomie het miljoene aan inkomste verloor. Dit sluit werksverliese in die sekuriteit-, skoonmaak-, toegangsbeheer- en informele sektor in, asook wat betref die bemarking van diererasse en diere uit stoeterye deur telers en boere.”
Prinsloo sê soveel het die afgelope twee jaar verander.
“Bekende uitstallers, diensverskaffers en staatmakers is net nie meer met ons nie of het hul deure gesluit.”
Sy sê met dit alles in gedagte was dit nie maklik om weer te begin reël aan die skou nie.
“Ons moes ses maande lank reëlings en planne terughou om te hoor of groot geleenthede weer oopgestel mag word. Toe ons einde Januarie in alle erns kon begin beplan, was daar steeds onsekerheid.
“Met die oopstelling het die voorwaardes gekom van inenting of ’n negatiewe Covid-19-toets by toegang.
“Ons ander uitdaging is die uitbreking van bek-en-klouseer, wat ’n groot invloed het op die aantal kampioenskappe van beeste en skape wat op die skou aangebied kan word.”
Prinsloo sê die uitdagings het nie net betrekking op Bloemskou nie, maar op almal wat groot geleenthede aanbied.
Soos gewoonlik bied Bloemskou ’n propvol program aan met onder meer kunstenaars soos Early B, Snotkop, Juanita en Franja du Plessis en Ruan Josh, asook Refentse en Dillon Lerm wat saam met skou-gunstelinge soos Lollos kom optree.
Daar is die Bloem Classic-liggaamsbou-kompetisie, die skoukompetisie waarvoor kreatiewe handwerk weer ingeskryf kon word, asook interessante uitstallings soos dié van die Pantserskool en die Brandweer-museum.
Vanjaar het die pretpark 29 ritte en dit sal daagliks vir die duur van die skou, van 27 April tot 7 Mei, oop wees.
Die nasionale saalperdkampioenskap met deelnemers van oor die land heen gaan ook weer vanjaar tydens Bloemskou aangebied word.
- Besoek bloemskou.co.za vir inligting oor kaartjiepryse en die volledige program.
- Kits-Covid-19-toetsing kan teen R95 op pad na hek 2 (naby Builders Warehouse) en hek 4 (naby Cat Box) gedoen word. Negatiewe toetsuitslae kan vir toegang gebruik word.