Dis weer sulke tyd, Shimlas

Daar wag groot opwinding in Bloemfontein wanneer die UV se Shimlas op 22 April op Shimlapark in die eindstryd om die Varsitybeker speel.


Daar wag groot opwinding in Bloemfontein wanneer die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Shimlas op Maandag 22 April op Shimlapark in die eindstryd om die Varsitybeker in Bloemfontein speel.

Dit kom nadat die Shimlas Maties op Maandag 15 April platgevee het in hul stormloop van 38 – 24 in die halfeindstryd om die reeks in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch.

Die Universiteit van Wes-Kaap (UWK) se Ikeys het op hul beurt klaargespeel met die Arende van die Noordwes-Universiteit (NWU). Die telling in Potchefstroom was 32 – 18.

Die Bloemfonteiners het vyf drieë teenoor die Maties se vier gedruk.

Ikeys en Shimlas wat dit Maandag om die beker gaan uitspook, het elk nog net een keer die Varsitybeker gewen: die Shimlas in 2015 en die Ikeys in 2014.

Die Shimlas het benewens dié oorwinning nog net een ander keer die eindstryd gehaal.

Destyds toe die Shimlas Varsity-bekerglorie gesmaak het, was Franco Smith die afrigter en Ox Nche die loskopstut.

In 2015 het die Shimlas die Pukke met 63 – 33 in die eindstryd in die Rosestad oorweldig.

“Ek dink die rede vir ons sukses was die toewyding van die spelers,” sê Smith oor dié oorwinning in 2015.

“Die spelers was bereid om hard te werk en hulle was nederig – hulle het hul voete op die grond gehou. Hulle het gefokus op die proses wat ons gehad het,” sê Smith.

“Ons het ook goeie ondersteuning daardie jaar gehad. Shimlapark was vol en dit was nie net die studente wat soontoe gegaan het nie, maar die hele stad se mense het ons ondersteun.”

’n Jaar later, in 2016, het die Cheetahs met Smith as afrigter die Curriebeker gewen.

“Dit (om die Shimlas af te rig) het my ’n geleentheid gegee om my stempel as ’n afrigter in Suid-Afrikaanse rugby af te druk. Die Shimlas het baie goed reageer op wat ons wou doen,” sê Smith, nou die afrigter van die Skotse span die Glasgow Warriors.

Smith wys daarop dat die Shimlas se sukses in 2015 ’n groot invloed op baie mense se loopbaan gehad het. André Tredoux, die Vrystaters se hoofafrigter, was destyds die Shimlas se tegniese ontleder. Dan is Hendro Scholtz, wat toe die Vrystaters se voorspelerafrigter was, steeds deel van die afrigtingspan.

“Die oorwinning het ongelooflik baie beteken, nie net vir die universiteit nie, maar ook vir elke speler.

“Dit het ’n groot invloed op hul lewe gehad,” sê Smith.

You need to be Logged In to leave a comment.