Is dit ‘n voël? Is dit ‘n vliegtuig? Nee, dis Braaf die Boerboel! En hy is gereed om kinders te help.

Braaf die Boerboel, die breinkind van Boerboel Wear, is ‘n splinternuwe held. Hy is soos Superman, maar in khaki geklee en gaan ook binnekort in Bloemfontein kom kuier. 

Braaf gaan binnekort met skouermantel en al kragte met Solidariteit Helpende Hand saamsnoer om na kinders se welstand en toekoms om te sien.

Helpende Hand, Boerboel Wear en Lekker Luister het pas die Braaf-projek bekend gestel waarin Braaf die hoofrol speel.

René Roux, Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie, sê dié projek word aangebied saam met Helpende Hand se Tassieprojek wat jaarliks toesien dat talle hulpbehoewende gr. 1-leerlinge met ’n ten volle toegeruste skooltassie hul skoolloopbaan kan begin. 

Die hoofdoel van die Braaf-projek is om vir kinders te leer dat dit nie net belangrik is om braaf te wees nie, maar noodsaaklik.

“Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms ook bang en versigtig te wees, maar die meeste van alles dat dit braaf is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie. 

“Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ’n gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek,” sê Roux.

Die Tassieprojek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte en dit sit sedert 2007 ’n tassie, toegerus met hoëgehalteskryfbehoeftes, in hulpbehoewende leerlinge se hand vir hul eerste skooldag in die grootskool. 

Die totale koste van ’n tassie is R350.

Boerboel Wear het reeds R40 000 ten bate van hierdie projek geskenk. Daarmee kan 115 behoeftige kinders in 2023 toerus word met ? skooltas propvol skryfbehoeftes. Die maatskappy daag graag ander Afrikaanse besighede uit om ook die hand in eie boesem te steek en ‘n weldaad te betoon. 

Boerboel Wear se jong ondersteuners kan boonop daarna uitsien om Braaf die Boerboel en Helpende Hand se Piet Tande, die tandemuis, in 2023 te ontmoet. 

Die twee ysters sal van Januarie 2023 af deur die land toer om bewusmaking te skep oor hoe “braaf-wees” ‘n gesonde gees en liggaam kan kweek.

Boerboel Wear sal 2022 op ‘n hoë noot afsluit met ’n splinternuwe enkelsnit van Jan Jan Jan genaamd “Braaf soos ‘n Boerboel”. 

Daarmee wil hulle verdere bewusmaking skep van die Braaf-projek en groter momentum daaraan gee. Tesame met Jan Jan Jan se enkelsnit sal Lekker Luister Braaf se inspirerende storie vertel en die oorsprong van sy naam bekendmaak.

Lekker Luister is die konsep van twee mammas, Christelle Webb-Joubert, RSG-radiopersoonlikheid, en Juanita de Villiers, Getroud met rugby-aktrise, wat uit persoonlike ervaring ’n geleentheid gesien het om ’n platform te skep waar kinders die wonderwêreld van stories in ons moedertaal kan ontdek. Hou die sosialemediaplatforms dop en laai intussen vir jou kleinspan die Lekker Luister-toepassing af. 

Daar wag reeds meer as 70 oorspronklike stories wat bedtyd, speeltyd en die langpad soveel lekkerder sal maak deur die wonder van luister. 

Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek www.tassie.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.