Wat is sukses?
Mense is op vele gebiede suksesvol – sommige op skool, sommige in die werk wat hulle doen, sommige in sport.
As ’n mens eers die selfkennis het om te weet wie jy is en wat vir jou saak maak, is dit waarskynlik makliker om jou sukses te definieer.
Soms kan mislukkings jou egter oorrompel. ’n Sportman wat goed vaar en skielik die een ná die ander keer tweede, derde of selfs laaste kom, kan maklik tou opgee.
Dit lyk soms vir ons of sukses net vir sekere mense beskore is. Dit lyk of sukses vir sommige mense natuurlik kom, terwyl ander baie hard daarvoor moet werk en gereeld mislukking moet oorkom. Of maar net nooit die beste sal wees nie.
Die twee hokkiewedstryde tussen die Hoër Meisieskool Oranje en Eunice High School die afgelope tyd is ’n goeie voorbeeld van twee topspanne wat dit gereeld om die topplek uitveg.
Dit is duidelik dat albei spanne baie hard werk vir hul punte.
By albei die wedstryde, verlede week Dinsdag en Sondag, met die eindstryd tussen die twee spanne om die wenspan te bepaal, was dit die ondersteuners wat my geboei het.
Sondagmiddag laat het ouers en onderwysers, maar ook heelwat mede-leerlinge, Oranje se skoolterrein na die pavviljoene by die sintetiese hokkieveld binnegestroom om die spannende eindstryd van die Super 12-hokkietoernooi gade te slaan te slaan.
Die meisies op die baan het hul alles gegee, aangespoor deur ’n opgewonde skare.
Seker ook maar soos dit geklink het in talle huishoudings oor Suid-Afrika heen toe die Springbokke Saterdag die All Blacks behoorlik op die neus laat kyk het.
Miljoene ondersteuners wat net 15 manne op die veld in Mbombela ondersteun. Dit is nou benewens die groen skare op die pavviljoene wat dáár was vir die groot geleentheid.
Die skare van oraloor wat saam met die Bokke gejuig het oor elke punt wat aanteken is. Bekommerd toekyk as ’n speler seerkry.
Die afgelope paar weke was sport oral te sien, met die Statebondspele in Birmingham en die o.20-wêreldkampioenskap in Colombië wat sportlui vanuit talle lande byeengebring het. Baie sportmanne en -vroue, atlete en spanne wat sukses behaal het en wie se lof op koerante se voorblaaie besing is.
Daar was egter ook baie wat regtig hard gewerk het, maar sonder ’n medalje moes huis toe kom.
En dit is hier waar die ondersteuners so belangrik is, nie net wanneer iemand wat hard gewerk het oorwin het nie, maar ook om hom of haar te bemoedig as dinge nie so goed gegaan het nie.
Dit is heerlik om ondersteuners te hê wanneer jy wen, maar dit is ook net so kosbaar om ondersteuners te hê wanneer jy misluk. Wat jou kan ophelp, vertroos en moed in praat.
Sukses kan baie vorme aanneem, maar om ’n goeie en getroue ondersteuner te wees, is beslis een daarvan.
Mag jy altyd omring wees deur ondersteuners wat jou deur storms én kalm water ondersteun.
Mag jy altyd net jou beste gee en jou sukses met niemand anders vergelyk nie.
Jy is uniek en jou sukses is net joune.