Diversifikasie is ’n algemene term in beleggings.
Almal ken die gesegde “moenie al jou eiers in een mandjie sit nie” – maar is jou belegging gediversifiseer?
Volgens Charl Roos van Private Wealth Management (PWM) beteken diversifikasie nie die aanhou van ’n groot hoeveelheid effektetrustfondse in een portefeulje nie, maar eerder die samestelling van ’n portefeulje waarin verskillende bates en bateklasse onder verskillende omstandighede sal presteer.
Die kruks van diversifikasie is om ’n portefeulje saam te stel wat uit verskillende bateklasse bestaan en nie onder alle omstandighede net saam met die algehele markte beweeg nie. Dit is iets wat effektetrustfondse nie noodwendig kan bied nie.
Hy sê sekere beginsels van diversifikasie behoort in elke portefeulje te wees:
- diversifikasie tussen verskillende bateklasse (aandele, kontant, skuldbriewe en eiendom);
- geografiese diversifikasie tussen verskillende lande en geldeenhede; en
- lae korrelasie teenoor al die fondse.
“As jy in tradisionele langtermyn-effektetrustfondse belê, is dit noodsaaklik om fondse in jou belegging te hê wat ’n lae korrelasie het teenoor mekaar, asook die JSE se algehele indeks. Só kan diversifikasie bevorder word.”
Een oplossing om te oorweeg is om verskansingsfondse by jou belegging te voeg. Verskansingsfondse het ’n lae korrelasie teenoor die tradisionele multibate-effektetrustfondse, asook ’n lae korrelasie teenoor die JSE se algehele indeks. Lae korrelasie beteken dat fondse nie soos die mark reageer nie en mekaar dus aanvul soos wat sekere gebeurtenisse in die ekonomie plaasvind.
Verskansingsfondse word sedert 2015 in Suid-Afrika op dieselfde wyse as kollektiewe beleggingskemas gereguleer. Weens die beskikbaarheid op beleggingsplatforms was dit voorheen moeilik om blootstelling in verskansingsfondse te bekom.
Peregrine Capital, Suid-Afrika se oudste bestaande verskansingsfondsbestuurder, is vandag op die meeste beleggingsplatforms beskikbaar en beskik oor ’n prestasierekord wat oor 23 jaar strek. Lae korrelasie kom vanweë ’n beleggingsfilosofie, bestuurstyl en aandeelkeuses.
Roos sê verskansingsfondse het meer hulpmiddels om opbrengste te genereer.
“Die grootste verskil tussen ’n tradisionele langtermyn-effektetrust en ’n verskansingsfonds is dat ’n verskansingsfonds opbrengste kan genereer ongeag die beweging van die mark. Dus is die soort fonds nie onderhewig aan ’n stygende mark om opbrengste te genereer nie.”
Die tweede grootste verskil is dat ’n verskansingsfonds jou kapitaal kan beskerm as markte daal.
“Met die Covid-19-pandemie het Peregrine Capital sy kliënte se kapitaal nie net beskerm nie, maar ook in ’n struikelende markomgewing goeie opbrengste gelewer. Die doel van diversifikasie is juis om die bronne van groei of inkomste te versprei sodat blootstelling aan een gebeurtenis nie dieselfde invloed op jou belegging het nie.”
- Meer inligting kan bekom word deur 051-110-1179 te skakel.


