Belastingbetalers van die Mangaung-metro voer al lank ’n stryd teen swak dienslewering en talle inwoners het al na ander oplossings gesoek om byvoorbeeld vullis gereeld te laat verwyder.
Talle sê dit is onregverdig om belasting te betaal vir dienste wat nie gelewer word nie, dan boonop nog te betaal om vullis wel te laat verwyder.
Jaco Grobbelaar, streekshoof van AfriForum in die sentraalstreek, sê dit is tyd dat die gemeenskap sy stem dik maak en nee sê om vir swak dienslewering. “As die munisipaliteit nie die diens reg kan lewer nie, sal ons dit self doen,” meen Grobbelaar.
Hy verwys na die munisipale regulasie waarvolgens ’n inwoner skriftelik kan aansoek doen met redes oor waarom hy nie meer die diens wil ontvang nie.
“Dienste wat privaat gelewer word, is betroubaarder en goedkoper as wat die munisipaliteit ons nou vra,” sê Grobbelaar. “Daarom moet inwoners die geleentheid gebruik om die munisipaliteit in kennis te stel dat hulle van ander vullisverwyderingsdienste gebruik maak en nie meer die munisipaliteit se vullisverwydering nodig het nie.”
Hy sê AfriForum lewer self al vir die afgelope vier jaar ’n volhoubare vullisverwyderingsdiens aan lede en nie-lede in Bloemfontein. “Dit kán gedoen word.”
Die munisipale verordening stel duidelik dat inwoners aanspreeklik is om die tariewe te betaal indien die munisipaliteit die afvaldienste lewer, maar dat inwoners vrygestel kan word indien hulle die munisipaliteit skriftelik in kennis stel en die munisipaliteit dan daartoe instem. Volgens dié munisipale regulasie het inwoners wat reeds van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak die reg om hul munisipale vullisverwyderingsdienste en kostes te kanselleer. Neem kennis dat dit steeds die inwoner – wat hierdie versoek in sy eie kapasiteit gaan verklaar – se verantwoordelikheid bly om met die betrokke amptenare by die metro op te volg oor die kansellasie van sy dienste en kostes.
“Dit is onaanvaarbaar en onregverdig dat inwoners dubbel moet betaal vir ’n diens wat hulle in werklikheid net een keer ontvang,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Die gemeenskap is moeg daarvoor om te sukkel om hul omgewing netjies te hou. Die vullis lê vir weke aaneen voor inwoners se huise en dit het ’n direkte impak op inwoners se gesondheid en veiligheid.”
AfriForum het ’n vorm met die nodige inligting opgestel waarvolgens inwoners vir vryskelding van dié diens kan aansoek doen. Sien die skakel hier: https://afriforum.co.za/en/swak-dienslewering-in-bloemfontein/