Die “fiksste dokter in Afrika” gaan nou haar internasionale buiging in die crossfit-arena maak.
Liza-Mari Gilliomee (32), ’n mediese dokter van Bloemfontein, sê die kompetisie-gogga het haar gebyt.
Sy het gekwalifiseer vir die @elfit-kampioenskap wat van 16 tot 18 November in Kaïro, Egipte, aangebied word.
Slegs 35 vroue van oor die wêreld heen het vir dié kampioenskap gekwalifiseer.
Deelnemers moes aan vier aanlyn kwalifiserende nommers deelneem waaruit die beste elite-vroue aangewys is.
Crossfit is ’n relatief nuwe sport in Suid-Afrika en raak toenemend gewild onder ’n verskeidenheid sportlui. Gilliomee vertel sy het op universiteit aan langafstandwedlope en bergfietswedrenne deelgeneem, waarna sy in 2019 met die aanmoediging van afrigter Richard Kaplen in Bloemfontein aan crossfit begin deelneem het.
Sy sê crossfit is ’n kombinasie van gewigte, gimnastiek en kardio-oefeninge wat ’n hoë mate van fiksheid, asook vaardigheid, vereis wanneer jy op die hoogste vlak deelneem.
“Dit is ’n baie lekker sportsoort omdat mense van verskillende fiksheidsvlakke in dieselfde kompetisie kan deelneem,” sê sy.
Sy het in Februarie aan die crossfit-spele in Johannesburg deelgeneem, waarin sy 18de onder die beste 30 elite-vroue was.
Verlede jaar het sy aan die crossfit-beroepspele deelgeneem, waarin 300 000 medici van oor die wêreld heen aanlyn meegeding het.
Gilliomee was 47ste in die wêreld en die beste in Afrika.
“Ek geniet dit om in spanverband aan kompetisies deel te neem, omdat spanlede elk met hul eie sterkpunte die span beter maak.”
Sy sê die lekkerste van deelname aan die sportsoort is dat die uitdagings nooit ophou nie.
“Jy moet altyd fikser, sterker en beter word. Jy weet nooit watter uitdagings daar in ’n spesifieke kompetisie gaan wees nie. Daar is gereeld ’n nuwe oefening wat jy moet inoefen.”
Sy oefen twee keer per dag, vier dae van die week, met Saterdae waarop sy ’n halfdag se oefening insit. Sy en spanlede Cora-Lee van Tonder, Retief Hoffman en Johan Kruger gaan van 6 tot 8 Oktober in Gqeberha aan die Fittest in PE Crossfit-kompetisie deelneem.