Die twee oudleerlinge van Grey, Logan W. James (links) en Chartyn van Heerden, saam met die Binnelanders-akteurs Erin Patience (voor) en Megan Troskie. Foto: Verskaf

Nog ‘n oudleerling van Grey-kollege het op Woensdag 4 Junie in die televisiereeks Binnelanders sy verskyning gemaak.

Logan Landman (21), of eerder Logan W. James – wat hy as sy professionele naam gebruik – het hom van Woensdag af aangesluit by ‘n skoolvriend, Chartyn van Heerden, wat reeds op 19 Mei sy eerste verskyning in die reeks op kykNET gemaak het.

Van Heerden het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Universitas begin, maar in 2016, aan die begin van gr.7, na Grey-kollege (primêr) oorgeskakel. Dit is op die verhoog vir dié laerskool se produksie Time Out! dat hy die eerste keer regtig tuis gevoel het.

Daarna het hy na Grey-kollege (sekondêr) gegaan, waar hy in 2021 gematrikuleer het.

Dit was hier, onder die wakende ook van drama-onderwysers Brenda Myburgh en Mia-Anne O’Kennedy dat die twee vriende se talent gedy het. O’Kennedy woon deesdae in Johannesburg en is ook in Binnelanders te sien.

Op skool het Van Heerden aan die Tienertoneelkompetisie deelgeneem en selfs tot in die nasionale eindronde van die ATKV-Digitoneel-kompetisie gevorder. Hiervoor het hy die teks geskryf, gespeel en die regie en tegniese aspekte hanteer. Min sou hy destyds kon weet dat toneelspel sy roeping sou word.

Ná matriek het Van Heerden aan die Performing Arts Lifestyle Institute (Pali) Incubation in Pretoria studeer, waar hy in uitvoerende kunste en besigheid-administrasie onderrig is. Reeds tydens sy studie het hy op televisie debuteer en rolle vertolk in rolprente soos Mini Golf, Geduld is ‘n Virtue en Herleef.

James, wat aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) drama studeer het en deesdae in Johannesburg woon, het Woensdag as Le Roux Snyman in die reeks begin speel.

Binnelanders se 15de reeks word nou op kykNET en ook op Showmax vertoon.

James is ‘n ervare akteur met ‘n sterk agtergrond in musiekblyspele en was dikwels op die verhoog in Bloemfontein – in Everyman, How to Wuzz, Run for Your Wife en op die jaarlikse Afrikadag by die UV. Hy was boonop in drie van Xander Steyn se produksies aangebied deur The Rabbit Studio: Peter Pan, Aladdin en Tangled.

“As Oud-Grey en trotse Kovsie, is dit vir my ‘n groot oomblik,” sê James in ‘n nuusverklaring.

“Baie van ons het in ons grootwordjare Binnelanders gekyk en nou is ek deel daarvan. Dit is onwerklik en ek is baie opgewonde om iets nuuts na die skerm te bring.”

Van Heerden sê om in Binnelanders te speel is ‘n belewenis waarvan hy nooit sou kon droom nie.

“Ek speel teenoor akteurs vir wie ek my hele lewe lank respek het. Ek is so bevoorreg om hier te wees. Dit gebeur so vroeg in my loopbaan, wat beteken dat ek soos ‘n spons alles kan inneem. Ek leer elke dag by Binnelanders, nie net oor toneelspel nie, maar ook oor die lewe.”

Hy sê nog ‘n bonus is dat hy nie hierdie wonderlike fase alleen aanpak nie.

“My maat van Grey-kollege is ook in Binnelanders te sien. Dit maak alles net nog meer besonders.”

You need to be Logged In to leave a comment.