Dominee dien tot op laaste

Hospitaalpersoneel het Sondag 7 April ’n erewag gestaan toe ’n geliefde predikant van Bloemfontein, wyle ds. Fanie Spamer (63), sy laaste groot diens aan sy medemens gedoen het.


Hospitaalpersoneel het Sondag 7 April ’n erewag gestaan toe ’n geliefde predikant van Bloemfontein, wyle ds. Fanie Spamer, sy laaste groot diens aan sy medemens gedoen het.

Spamer, wat die laaste jaar as predikant by die NG kerk Reddersburg waargeneem het, het Dinsdag 2 April tydens ’n huisbesoek op ’n plaas buite die dorp ’n beroerte gehad.

Hy is in die waakeenheid in die Mediclinic Bloemfontein opgeneem waar hy later breindood verklaar is.

Spamer se seun, dr. Stefan Spamer, sê sy pa het dit aan hulle duidelik gemaak dat hy ’n orgaanskenker wil wees.

“Ek en my suster Anél is in die gesondheidsbedryf,” vertel Stefan. “Ek was in my beroep al betrokke by orgaanoorplantings en weet hoe moeilik dit is om die regte skenkers te kry.

“My pa was erg oor orgaanskenking – ons weet ons het die regte ding gedoen.”

Hy sê sy pa het baie met mense te doene gekry wat organe ontvang het en weet hoe dit mense se lewe verander.

Stefan sê sr. Marelize de Jager van die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg wat die hele orgaanskenkingsproses gekoördineer het, het ’n ongelooflik goeie werk gedoen.

De Jager was Sondagoggend vroeg in Mediclinic en het dadelik begin om die prosesse aan die gang te sit.

“Dit gebeur nie gereeld dat iemand van die Vrystaat ’n orgaanskenker is nie,” sê De Jager.

“Dit is ook nie almal wie se organe geskik is nie. Toe die familie vir ons laat weet het, het ons dadelik begin reëlings tref. Daar is nie baie tyd vandat ons bewus word van ’n orgaanskenker totdat die oorplanting in die ontvangers gedoen word nie.”

De Jager sê baie mense dink net aan orgaanskenking.

“Hoewel organe lewens red, verbeter weefselskenking mense se lewensgehalte.”

Sy sê ’n weefselskenking van een skenker kan tot 70 ontvangers se lewe verander.

“Elkeen wat Sondag ’n orgaan ontvang het, het ’n kosbare geskenk ontvang.”

Sr. Gretha Botha, adjunk-verpleegbestuurder by die Mediclinic Bloemfontein, sê nie almal is geskikte orgaanskenkers nie.

“Ds. Spamer was ’n baie goeie kandidaat vir orgaanskenking, omdat hy ’n gesonde leefstyl gehad het,” sê sy.

Sy moedig mense aan om met hul familie oor orgaanskenking te gesels.

“Baie mense skryf in hul testament dat hulle orgaanskenkers wil wees, maar mense maak eers ’n testament oop nadat iemand gesterf het. Orgaanskenking moet gebeur sodra iemand breindood verklaar word.”

Ook De Jager sê mense moet gerus orgaanskenking oorweeg en hul familie daaroor inlig.

“Dit sal baie help wanneer erg emosionele besluite geneem moet word,” sê sy.

“Ds. Spamer het baie mense se lewe gered, en nóg meer aangeraak ná sy dood,” sê De Jager.

Ds. Fanie was vir 18 jaar die predikant van die NG kerk Gardeniapark en 12 jaar predikant by die NG kerk Heuwelsig.

You need to be Logged In to leave a comment.