Donna speel in internasionale Billie Jean King-toernooi

Donna le Roux en die Claassens-duo van die Hoër Meisieskool Oranje hou Bloemfontein se naam hoog in tennis.

Donna le Roux

Donna le Roux (17) van die Hoër Meisieskool Oranje is een van vyf uiters talentvolle Suid-Afrikaners wat tot Saterdag 12 April deelneem aan die toernooi om die Billie Jean King-beker in Larnaca, Siprus.

Dit is ‘n groepstoernooi vir groep 2 van Europa en Afrika.

Donna le Roux
Donna le Roux

Hoewel Donna nie so goed gevaar nie het in die eerste wedstryd, teen Magdalena Stoikovska, het sy en spanmaat Jahnie van Zyl die dubbelspel met 6 – 2 en 6 – 0 gewen teen Macedonië se span.

Op die tweede dag het die Suid-Afrikaanse span met die span van Kosovo afgereken (3 – 0). Donna het Vesa Gjinaj met 6 – 3, 3 – 6 en 6 – 3 in die stof laat byt.

Intussen het reën ammok gesaai in Bloemfontein waar die junior nasionale kampioen-skapsbyeenkoms gespeel is.

Lika en Mandie Claassens, ook van Oranje, was Maandag in die o.14-dubbelspel met 6 – 3, 3 – 2 voor toe reën die wedstryd beëindig het. Hulle het ook die halfeindstryd van die o.14-enkelspel gehaal en is dus albei in die derde plek in die enkelspel.

Nestine van Rooyen van Oranje was in die o.18-kwarteindstryd.

Meer as 500 junior spelers het aan dié toernooi van 2 tot 7 April deelgeneem.

Mandie en Lika Claassens van die Hoër Meisieskool Oranje het die o.14-dubbelspel in die junior nasionale kampioenskap gewen.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.