Die gemeenskap vra dringend ingryping ná die verdrinking van Benjamin van Wyk (20) in die Witherow-steengroef in Heidedal.
Van Wyk, wat op Donderdag 16 Oktober dood is, is een van talle mense − waarvan heelwat kinders − wat in dié diepblou water van die steengroef verdrink het.
Lede van die Welkom-polisie se duik-eenheid het die soektog na Van Wyk ná twee dae afgelas − hulle kon die lyk nie vind nie.

Sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoord-voerder, het gesê duikers het regdeur die soektydperk gewerk, tot op die punt waar vasgestel is dat Van Wyk se lyk moontlik deur strome gedra is of na ‘n dieper deel van die steengroef verskuif het.
Die dieper gedeelte strek na raming tot ongeveer 50m.

‘n Geregtelike ondersoek is begin na die jong man se verdrinking.
Kareli sê volgens inligting wat die polisie ontvang het, het Van Wyk en sy twee vriende na die steengroef gegaan om te swem. Nadat hy in die water gespring het, is hy nie weer gesien nie.
Gemeenskapsaktiviste meen byna 50 mense het al in dié steengroef verdrink.
Op die groeiende lys mense wat daar verdrink het, is onder meer Dustin Kukari en Reginald Manie Ruiters. Sommige van die slagoffers het tydens visvangaktiwiteite verdrink. Ander menslike oorskot wat ontdek is, is vermoedelik in die water gegooi nadat die slagoffers elders vermoor is.
DA-raadslid Attie Terblanche vra dat die Heidedal-swembad weer heropen word sodat mense daar veilig kan swem.
Hy sê die swembad is steeds toe, al sou dit op 1 September geopen het. “Die swembad is in ‘n skokkende toestand − die water is groen en vuil, en die gras is lank.”
Terblanche sê die verwaarloosde swembad lei daartoe dat kinders in die gruisgroef gaan swem, wat weer tot verdrinkings aanleiding gee.






You must be logged in to post a comment.