Doodgewone bestaan lyk besonders deur storie-oë

Hoe leef ’n mens ’n lewe van fabelagtige proporsies?.


Hoe leef ’n mens ’n lewe van fabelagtige proporsies?

Die vraag klink selfs beter in Engels: “How do you live a mythical life?”

Onlangs word ek gekonfronteer met hierdie vraag deur iemand wat Star Wars gekyk het, en uiters beswaard was omdat sy nie in so ’n betekenisvolle, aksiebelaaide wêreld woon nie.

Ek begin oor die vraag nadink en gesels met van die wyse mense wat ek ken. Die eerste is die storieverteller Dorian Haarhoff wat die volgende met my deel: “We must live mythologically, not pathologically”.

Elkeen van ons moet ons verbeelding meer vrye teuels gee, die wonder in die alledaagse begin raaksien. Hoe meer ons die stories rondom ons waarneem, hoe meer begin ons besef dat ons deel is van iets groters as wat ons dink.

Dink maar net oor jou voorgeslagte: Hoeveel van hulle het nie ongelukke, oorloë, droogtes, krisisse en ander uitdagings oorleef nie? Net sodat jy vandag hier kan wees.

Op ’n ander forum gesels ek met ’n digter wat verstom staan oor die Star Wars-kyker se beswaardheid.

“Dink daaroor: Elke keer as jy die kinders by die skool gaan op- of aflaai, onderneem jy ’n ridderlike reis.

“Jy moet iemand veilig by hul gidse besorg, en dan jou rol as ouerlike gids vervul. Sommige mense gaan werk toe en maak opofferings om vir hul gesin te voorsien; ander maak ’n verskil, sien dinge rondom hulle raak, koop iets ekstras vir die honger bedelaar langs die pad, red ’n verlate troeteldier, plant ’n boom. Epiese lewens, as ’n mens deur storie-oë daarna kyk.”

Sy woorde laat my dink.

Die besonderse is ooglopend voor ons, verskuil deur die oogklappe van die doodgewone.

Het jy al oor jou eie lewe as ’n lewe van fabelagtige proporsies gedink?

Of dink jy aan jouself as ’n slagoffer van omstandighede? Dis nie moeilik nie. Ons sit immers in ’n stad met vrot munisipale dienste, korrupte amptenare, paaie vol slaggate, periodieke beurtkrag, onsekerheid oor water in die krane, koue winters, warm somers. Ons kan ’n oneindige lys van besware opstel.

Maar wat daarvan as elke kwessie op die lys nog ’n uitdaging is wat ons karakter toets? Iets wat ons die geleentheid gee om meer as die alledaagse te ervaar; te skryf aan ’n storie van hoop deur die verskil te wees wat ons graag wil sien?

Geen stories is die moeite werd om te lees as daar nie uitdagings, weerstand en probleme is nie – niemand oorleef die lewe nie, maar daar is ook baie mense wat nie die lewe lééf nie.

Ons is almal deel van ’n besonderse verhaal. Soms word ons oorweldig deur hoofstukke van smart en lyding, maar iewers breek die lig weer deur die duisternis.

Ons bestaan uit sterstof en ons reik na sterre.

Ons val en ons staan op.

Ons lag en ons huil.

Ons vloek soms en bid dikwels.

Ons gee en ons ontvang.

Ons streef en ons leef.

Ons is stories.

Epiese stories wat asemhaal.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.