Dooie visse versterk kommer oor gevare in stad se water

Ná onlangse mediaberigte oor tekens van steroïed-hormone, dwelms, plaagdoder en medisyne in Bloemfontein se water, laat dooie visse in die stad se stormwaterstelsel verdere kommer ontstaan.


Ná onlangse mediaberigte oor tekens van steroïed-hormone, dwelms, plaagdoder en medisyne in Bloemfontein se water, laat dooie visse in die stad se stormwaterstelsel verdere kommer ontstaan.

“Dit wil voorkom of riool nou ook by die lysie van onwelkome stowwe in die water gevoeg kan word.”

Só sê Valerie de Kock, VF Plus-raadslid.

Volgens haar het Christiaan Lombaard van die VF Plus-kantoor gister toevallig afgekom op dooie visse wat in die stormwaterkanaal langs Raymond Mhlabastraat dryf.

Sy sê hy het die omgewing besoek oor klagtes wat raadslede ontvang het.

“Dit was duidelik rioolwater wat in die kanaal gevloei het, al die pad tot bo by die verkeersirkel in Kenneth Kaundaweg,” sê sy.

De Kock sê sy het juis Maandag die riool wat by Pasteurylaan in die kanaal vloei, by die stadsbestuurder en uitvoerende burgemeester aangemeld.

“Rou riool uit vervalle rioolstelsels loop oor in stormwaterkanale wat direk in onder meer die Bloemspruit vloei,” verduidelik sy.

“Dit skep ’n ernstige gesondheidsrisiko vir die inwoners van Mangaung en dra by tot grootskaalse besoedeling van die beskikbare waterbronne.”

Die VF Plus het vantevore daarop aangedring dat alle rioolpyplyne in Mangaung opgeknap en vervang moet word, en daar is wel daarvoor in die 2023-’24-boekjaar geld vanaf Nasionale Tesourie hiervoor bekom.

“Ons sal ondersoek instel rondom hierdie geld en waarom dit nie aangewend is nie,” sê De Kock.

You need to be Logged In to leave a comment.