Kroonstad, op die oewers van die Valsrivier geleë, is ’n gerieflike stop op die N1-roete en was jare lank ’n aantreklikheid vir besoekers.
Sakelui en inwoners het onlangs hande gevat, planne gemaak en hard gewerk om Kroonstad tot sy eertydse glorie te herstel.
Te midde van sigbare herlewing hoop Kroonstad en sy mense om weer voete hierheen te trek.
Die lede van die Kroonstad-gemeenskap het ’n gesamentlike einddoel, en dit is om hul dorp op alle terreine werkend te maak en boonop ’n lus vir die oog.
Die opruiming van die dorp was die gedagte van ’n paar sakemanne wat besef het die pad vorentoe is om moue op te rol en sodoende die wa deur die drif te trek. Die Ignite and Revive-gemeenskapsorganisasie, onder leiding van André van Pletzen, het hieruit ontstaan.
Lede van die organisasie het op klein skaal begin voordat hulle met gemeenskapslede, die plaaslike munisipaliteit en verskeie sakeondernemings saamgespan het om eindelik die gemeenskaplike einddoel te bereik.
Die trefkrag van die verskil wat hulle reeds gemaak het, het ’n rimpeleffek – verskeie dorpe uit ander provinsies het al by die dinamiese groep kers opgesteek.