Dorp tel stukke op

Deel van die skuld vir die slikramp wat Jagersfontein Sondag (11/09) vroegoggend getref het, moet voor die deur van die regering gelê word.


Deel van die skuld vir die slikramp wat Jagersfontein Sondag (11/09) vroegoggend getref het, moet voor die deur van die regering gelê word.

Só het Karabo Khahau, die DA se kiesafdelingshoof in die Vrystaat, Maandag gesê tydens ’n optog waarop die DA ’n griefskrif met meer as 6 000 handtekeninge van inwoners oor waterprobleme in die Vrystaat aan die premier se kantoor oorhandig het.

Khahau sê waarskuwings is al in 2009 uitgespreek oor huise wat reg langs die damwal gebou is. Toe die myn in 2012 verkoop is, is die nuwe eienaars gemaan om aandag aan die damwal te gee.

Volgens die Vrystaatse wetgewer is sowat 200 huishoudings, in veral Charlesville en Itumeleng, direk deur die ramp geraak. Strukture, motors, mense en diere is deur die slikmassa meegesleur.

Anena Burger van Netwerk24 het Dinsdag in Volksblad geskryf van Rio-rita Breytenbach wat Sondag sowat 12 km ver deur die slik meegevoer is voordat sy gered is.

Tot dusver is daar berigte van een sterfte, dié van Aaron Mosweu, en talle mense wat by hospitale in die omgewing behandeling ontvang het.

Benewens die ernstige invloed van die slikramp op inwoners, word boere ernstig geraak.

Boere wat die Wolwas- en Kromellenboogspruit as natuurlike veesuiping gebruik het, is nou genoodsaak om alternatiewe drinkplek vir hul vee te kry.

In ’n verklaring van Vrystaat Landbou (VL) sê die uitvoerende hoof, Gernie Botha, dat gedeeltes van landbougrond om Jagers­fontein deur slik bedek word en dit nog onduidelik is wat die langtermyn-invloed op die landbougrond gaan wees.

Dennis Louw, ’n boer in die distrik, het verskeie veeverliese aangemeld en sê daar is ’n behoefte aan voerpille vir lammers omdat groot dele van weidingsgebiede deur die slik bedek word.

Pres. Cyril Ramaphosa en verskeie politici soos die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, asook senior amptenare, het die dorp vroeër die week besoek.

Adriaan de Bruyn, die VF Plus se parlementslid vir die nasionale raad van provinsies, sê die optrede by die Jagersfontein-ramp moet omvattend geskied om langtermyngevolge en verdere rampspoed te voorkom.

“Ons vra dat die premier die gebied onmiddellik tot rampgebied verklaar en openbare toegang beperk.”

Die speaker van die Vrystaatse wetgewer, Zanele Sifuba, het die dorp Sondag besoek en sê hulle waardeer owerhede se onderneming om ondersoek in te stel na wie aanspreeklik gehou moet word.

Die rioolaanleg van Jagers­fontein is vernietig en water- en elektrisiteitsvoorsiening is ook ontwrig.

Verskeie humanitêre organisasies soos die Rooikruis en Meals on Wheels help mense wat geraak word en organisasies en ondernemings samel voorraad in wat aan inwoners geskenk word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.