Opleiding in die skryf van ’n draaiboek vir rolprente, televisie of ander platforms is dalk net wat jy nodig het om jou kreatiwiteit aan die gang te kry.

Dié kursus is ’n eerste deur die Skrywersgilde van Suid-Afrika en word in Maart in al elf amptelike tale op verskillende plekke in die land, asook aanlyn, aangebied.

Volgens Hanné Koster, ’n mentor en een van die aanbieders, is die opleiding gemik op uitvoerende skrywers wat tekste vir rolprente, televisie, radio, die verhoog, animasie en nuwe media wil aanbied. Nuwe media sluit mobiele en digitale platforms in, asook speletjies.

Die kursus is veral vir opkomende skrywers en studente, maar is nie so beperk dat ander belangstellendes nie ook daarby baat kan vind nie, sê Koster.

Sy het ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en is ’n dokumentêre rolprentvervaardiger, TV-regisseur, draaiboekskrywer, videograaf en fotograaf.

Koster sê Afrikaanse skrywers wat in die tradisionele aanbieding van ’n kursus belang stel, kan uit drie liggings kies – Rosendal waar sy die aanbieder is, Vredenburg/Saldanha met Christopher Swart en Potchefstroom met Yolanda Lindeque-Strauss.

Nog ’n moontlike keuse is dié van mentorskap. Dit beteken ’n opleier loop stap vir stap met ’n kursusganger deur die hele ontwikkelingsproses van sy storie. Net 19 belangstellendes word vir dié spesiale geleentheid aanvaar.

Die goeie nuus is dat die kursus gratis is vir lede van die Skrywersgilde en dat nielede net R100 betaal.

Belangstellendes word aangemoedig om by die Skrywersgilde aan te sluit om sodoende toegang tot baie meer kursusse te kry.

Die Afrikaanse aanlyn kursus vind op 2 en 3 Maart plaas en die Engelse aanbieding op 22 en 23 Maart.

Tien kursusgangers word in ’n kontakklas toegelaat wat vir Afrikaanse skrywers van 10 tot 12 Maart in Vredenburg/Saldanha plaasvind, van 12 tot 14 Maart in Rosendal en van 18 tot 20 Maart in Potchefstroom.

Die sluitingsdatum vir alle aansoeke is 21 Februarie.

Besoek www.writersguildsa.org vir meer inligting en om aansoek te doen vir die kursus of die mentorskap.

You need to be Logged In to leave a comment.