Gesonde huwelike is een van die groot fokuspunte by die Gateway Fellowship in Bloemfontein.
Om aan te sluit by hierdie passie, het past. Pieter Calitz besluit om met sy heel eerste marathon volgende jaar geld vir Families Suid-Afrika (Famsa) in te samel om hulle te ondersteun met hulle huweliksverrykingskursusse.
Calitz hardloop al geruime tyd en het al talle halfmarathonne en veldloop-wedrenne voltooi.
Hy gaan egter op 10 Februarie deelneem aan die Kloppers-marathon wat in Bloemfontein aangebied word en hoop om daar sy eerste marathon van 42,2 km te voltooi.
“Ek het besluit ek wil hardloop vir ’n goeie doel om ook op so manier die Here te dank dat ek kan hardloop,” sê hy.
Met die geld wat mense kan bydra vir elke kilometer wat hy voltooi, sal ’n bydra gemaak word tot die huweliksverrykingsprogram wat Famsa gratis aan paartjies wil aanbied.
“Mense moet huweliksverryking ontvang wanneer hulle nog lief is vir mekaar,” verduidelik Ingrid Bell, direkteur van Famsa Bloemfontein.
“Mense moet vroeg in hul verhouding huweliksverryking ondergaan sodat hulle kan leer hoe om moontlike probleme in ’n huwelik te oorkom.”
Calitz sê net soos dit harde werk verg om te hardloop, verg dit harde werk om ’n huwelik in stand te hou. “Paartjies moet van die begin af belê in hul huwelike en nie eers begin raad soek wanneer dit reeds te laat is nie.”
Sy vrou, Odelle, wat baie betrokke is in kursusse rondom huweliksverryking, sê die reis wat jy in ’n marathon onderneem, is simbolies van ’n gesonde huwelik. “Dit is nie net die eerste dag wat belangrik is nie. Die laaste dag is net so belangrik. ’n Gelukkige huwelik is die grondslag van ’n gelukkige gesinslewe.”
Skakel Bell by 081-789-6261 as jy ’n bydra wil maak tot die fondsinsameling.
Inskrywingsvorms vir die Kloppers-marathon asook die halfmarathon is beskikbaar by Kloppers of by die Achilles-hardloopklub.