Dramadosent gesels oor Franz Marx

Akteur, skrywer en dramadosent dr. Chris Vorster het Donderdag 3 November by Protea Boekwinkel by Bloemgate oor sy eerste boek gesels.


Akteur, skrywer en dramadosent dr. Chris Vorster het Donderdag 3 November by Protea Boekwinkel by Bloemgate oor sy eerste boek gesels.

Hy en prof. Anthea van Jaarsveld, beide dosente aan die departement drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het gesels oor die boek Franz Marx: Uit die perd se bek.

Chris sê die boek het ontwikkel uit sy doktorsgraadstudies wat hy oor Franz Marx gedoen het.

“Aanvanklik wou ek my studie oor Afrikaanse televisieskrywers doen, maar een het duidelik uitgestaan en ek het my invalshoek verander,” sê Chris.

Ná sy studie afgehandel is, het Protea hom genader om ’n boek oor Marx te skryf.

“Ek het verlede jaar Oktober ’n afspraak met hom gemaak om oor die boek te gesels, maar hy is voor dit oorlede.”

Chris het dus vorige gesprekke wat hy met Marx gehad het, asook onderhoude wat hy met kennisse en vriende gevoer het, as basis vir die boek gebruik.

Marx, wat in September verlede jaar in die ouderdom van 78 oorlede is, het aanvanklik bekendheid verwerf vir die reekse Skooldae en Agter elke Man.

“Hiermee het hy die standaard gestel vir Suid-Afrikaanse televisiereekse,” het Chris vertel.

“Franz het oorsee gaan navorsing doen toe kykNET hom vra om ’n dagvervorgverhaal te skep. Dit moes anders wees as die Amerikaanse strooisage. Hy het gaan kyk na suksesvolle reekse en swak reekse in byvoorbeeld Frankryk.”

Hieruit is die sepie Egoli – Plek van Goud gebore waarvan daar aanvanklik net 100 episodes opgeneem is, maar blitsvinnig ’n nasionale en internasionale sukses was.

Die reeks is vir meer as twee jaar in Engels ook opgeneem en na ander lande versprei.

Chris sê die boek gaan in ’n groot mate oor Franz se bydrae tot Suid-Afrikaanse TV en sy reuse-bydrae tot die skeppingsproses.

Chris is nou besig met sy tweede boek oor nog ’n ikoon in die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf, Marius Weyers.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.