Jane Mpholo-Mehlape is vanjaar by talle produksies op die Vrystaat Kunstefees betrokke. Foto: Verskaf

Drie vroulike ikone van Suid-Afrika se verhoog- en TV-wêreld sal van 15 tot 19 Julie deel wees van vanjaar se Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.

Tinarie van Wyk-Loots, Cintaine Schutte en Jane Mpholo-Mehlape gaan vanjaar in verskillende produksies hul bydrae lewer om die fees onvergeetlik te maak.

Schutte sê sy het ‘n sagte plek vir die Vrystaat Kunstefees.

Cintaine Schutte in ‘n Begin.

“Dit is waar ek as jong kunstenaar kon woeker, nuwe kunstenaars ontmoet het, gehaltewerk kon sien en my wortels kon anker in die bedryf.”

Sy sê die verskeidenheid van vanjaar se fees-program is opvallend.

“Daar is altyd iets divers en vars.”

Vir haar is dit ‘n voorreg om saam met kunstenaars soos Van Wyk-Loots en Mpholo-Mehlape genoem te word.

Sy is bekend vir haar vermoë om karakters met diepte en emosioneel gelaaide rolle te vertolk.

Dit is ook die geval met haar twee rolle in produksies hiér.

Dit is Annie+Helen, waarin Annie Sullivan (Schutte) en Helen Keller mekaar in 1887 ontmoet. Wat volg is ‘n intens roerende oorlog tussen twee gebroke mense.

Die skerpsinnige stuk ‘n Begin verken vrae oor wedersydse eensaamheid en die mens se soeke na betekenisvolle verhoudings.

Van Wyk-Loots bied ‘n dapper stem wat met rou emosie aan elke karakter ‘n ongekende dimensie bied. As regisseur van ‘n Begin slaag sy daarin om met sekure spelleiding die mens se weerloosheid aan te spreek.

In Speenvark is sy regisseur en speler. In dié produksie ondersoek Van Wyk-Loots die emosionele landskap van wat dit is om ‘n Suid-Afrikaner te wees.

Mpholo-Mehlape, met haar natuurlike verhoog-aanwesigheid en veelsydigheid, slaag altyd daarin om gehore te betower. Sy is ‘n groot gunsteling uit die plaaslike toneelwêreld.

Sy is vanjaar op die fees betrokke by Dimpho & the Catfish, as regisseur. Sy is ook die skrywer van The Masks. In Perspectives on Perspectives of Love is sy ‘n speler.

Vroeg uit die vere-verkope vir die Vrystaat Kunstefees sluit op 30 Mei.

Besoek vrystaatkunstefees.co.za vir meer oor vanjaar se fees.

You need to be Logged In to leave a comment.