Drie ernstig beseer ná ontploffing by transformator in Bloemfontein

Drie verdagte kabeldiewe het duur betaal toe hulle geskok is terwyl hulle klaarblyklik ’n misdaad gepleeg het.


Drie verdagte kabeldiewe het duur betaal toe hulle geskok is terwyl hulle klaarblyklik ’n misdaad gepleeg het.

Die mans, wat nie geïdentifiseer is nie, ontvang behandeling vir ernstige brandwonde in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein.

Hulle word daarvan verdink dat hulle Sondag probeer het om koperkabels by een van die stad se hoëspannings-transformators by die verlate Bloemfontein-taxistaanplekke in die middestad te steel.

Lele Mamatu, Centlec se woordvoerder, sê die drie het ernstige brandwonde aan hul gesigte, nekke, koppe, borste, arms, hande en mae opgedoen toe die transformator ontplof het.

Mamatu sê die polisie, nooddienspersoneel en Centlec se veiligheidsamptenare het die drie mans op die toneel gevind. Hulle was in ’n kritieke toestand.

Volgens ooggetuies het die drie toegang tot die transformator deur die spruit gekry.

Drie mans waarvan hierdie een is ernstig beseer nadat hulle na bewering koperkabels probeer steel het.Foto: Verskaf

“Die owerhede is van die ontploffing by die transformator in die middestad in kennis gestel,” sê Mamatu. “Toe hulle daar kom, het hulle die drie slagoffers gevind. Die kabels wat hulle probeer sny het, het steeds krag gehad.”

’n Saak van saakbeskadiging van infrastruktuur is by die Parkweg-polisiekantoor geopen en word nou ondersoek.

“Ons waarsku die gemeenskap van Mangaung dat dit nie net onwettig is om te peuter met elektriese infrastruktuur nie, maar ook gevaarlik is en dit kan tot lewensverlies of ander ernstige gevolge ly,” sê Mamatu.

Georganiseerde kopersindikate gebruik die donkerte van beurtkrag om infrastruktuur te beskadig met die uitsluitlike doel om later die koperkabels te steel en dit aan skrootwerwe te verkoop.

Volgens Centlec het dié entiteit vanjaar tot Junie reeds R1,2 miljoen se verliese gely weens diefstal en vandalisme, terwyl dié verlies van April 2019 tot Maart 2022 R1,87 miljoen was.

Centlec se veiligheidsafdeling in samewerking met die polisie het ook toegeslaan op verskeie skrootmetaal-ondernemings in Ooseinde.

Een verdagte is in hegtenis geneem nadat daar beslag gelê is op gesteelde koperkabels.

You need to be Logged In to leave a comment.