Twee van die drie verdagtes is vanoggend in hegtenis geneem. Die drie word verbind met die diefstal van drie fietse uit ’n erf in Bayswater. Foto: Verskaf


Twee verdagtes is vanoggend in hegtenis geneem en ’n derde het homself aan die Navalsig-polisie oorgegee in verband met die diefstal van drie fietse in Bayswater vroeër vandeesmaand.

Die drie (21) het na bewering op Vrydag 3 November die drie fietse ter waarde van ongeveer R50 000 onder ’n lapa in Normandielaan in Bayswater gesteel.

Die eienaars van die fietse het op Facebook ’n inskrywing geplaas dat die fietse gesteel is, waarna hulle deur lede van die gemeenskap aangemoedig is om ’n klag by die polisie te lê.

Rikus Slabbert van Bloemsec Rapid Response sê hulle het ná die Facebook-inskrywing op kringtelevisiekameras die drie verdagtes op die fietse gesien en ’n uitgebreide soektog is na hulle en die fietse begin.

“Ons het een van die fietse op 9 November op ’n hoewe in Vaalbank-Zuid gekry, maar kon nog nie die ander twee opspoor nie,” sê Slabbert. Hy sê die operasie om die fietse op te spoor het in samewerking met AfriForum en lede van die Navalsig-polisiekantoor plaasgevind.

Sedertdien was hulle op die uitkyk vir die drie verdagtes.

“Ons kon twee van hulle vanoggend in Noordhoek vastrek.” Slabbert sê dit was in samewerking met AfriForum en die Bloemfontein-blitspatrollie.

Kort daarna het die derde verdagte homself aan die polisie oorgegee.

Slabbert sê een van die verdagtes is kort voor die diefstal uit aanhouding vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is vir die diefstal van ’n motorbattery.

Die waarde van die fiets wat teruggekry is, is na beraming R15 000.

You need to be Logged In to leave a comment.