Drie mans het vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn in verband met die moord op ’n man wat ’n kuierplek in Tweedelaan, Westdene, in Julie besoek het.
Mpho Kedumetse Mphepuka (31), Simphiwe Dlabu (27) en Justin Ayanda Horn (36) het vandag vir die eerste keer in die hof verskyn en sal in aanhouding bly hangende verdere inligting oor aansoek om borgtog. Hulle moet weer Maandag 5 Augustus in die hof verskyn.
Die drie is in hegtenis geneem ná die moord op ’n 43 jarige man wie se lyk in die vroeë oggendure van Maandag 22 Julie in ’n parkeerterrein oorkant kuierplekke in Tweede Laan in Westdene gevind is.
Lt. Kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, sê die drie was uitsmyters by ’n kuierplek en die slagoffer, wie se naam aan die polisie bekend is, was ’n besoeker aan die kuierplek. The Other Venue is sedert die voorval gesluit.
Covane sê die naam van die slagoffer kan in hierdie stadium nie bekend gemaak word nie, omdat ’n vriend wat saam met hom was, ’n getuie in die saak is.