Drie mosies van wantroue teen die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester het Donderdag (12/05) in die raadsvergadering misluk toe daar deur die ANC-meerderheid teen die mosie gestem is.
Mosies van wantroue teen Mxolisi Siyonzana deur die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD), die EFF en die DA het misluk nadat die speaker, Stephanie Lockman-Naidoo, beslis het dat ’n geheime stem nie toegelaat sal word nie.
Paseka Nompondo, koördineerder van die ANC se provinsiale interim-komitee in die Vrystaat, saam met Oupa Khoabane, woordvoerder van die komitee, het met valkoë gekyk dat ANC-raadslede nie saam met die opposisiepartylede stem om van Siyonzana ontslae te raak nie.
Daar het 54 lede teen die mosies gestem, teenoor 44 wat gemeen het Siyonzana moet gaan.
As die drie mosies geslaag het, sou hy die tweede uitvoerende burgemeester van die ANC wees wat die trekpas kry. Olly Mlamleli het reeds dié pad geloop toe sy in ’n derde mosie, ingedien deur die VF Plus, uit die kussings gelig is.