Drie se dood in huis in Wilgehof ruk Bloemfontein

Lede van die Parkweg-polisiekantoor ondersoek die omstandighede waarin drie mense in Van Heerdenstraat 2, Wilgehof, dood is.


Lede van die Parkweg-polisiekantoor ondersoek die omstandighede waarin drie mense in Van Heerdenstraat 2, Wilgehof, dood is.

Inwoners het gister verslae voor die Byenes-dagsorgsentrum rondgestaan waar die lyke van Christo Theron (36), sy vrou, Janine (35), asook Janine se ma, Betsie Kruger (66), Donderdag (29/06) om 08:50 in die huis gevind is.

Die polisie is ontbied en was sedert vroegoggend op die toneel om deeglike bewyse bymekaar te maak.

Kapt. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, sê die voorlopige ondersoek wys dat die drie vasgebind en verwurg is. Dit is nog nie bekend hoeveel verdagtes daar is nie.

Die verdagtes het die toneel verlaat met geld, ’n skootrekenaar en persoonlike besittings.

Earle sê benewens die drie wat dood is, was daar nog ’n vrou (91) by die huis, maar sy weet na bewering nie wat gebeur het nie en daar word vermoed dat sy deur die gebeure geslaap het.

’n Polisievoertuig voor Van Heerdenstraat 2 waar drie mense dood gevind is.Foto: Lientjie Mentz

Lede van AfriForum het gister die hele dag gehelp om nuuskierige mense van die toneel weg te hou sodat die polisie kon voortgaan met die ondersoek.

Enigeen met inligting oor die gebeure, word gevra om kapt. Sebata Mosema by 082-526-2713 of kapt David Ramasoala by 082-468-1624 te skakel.

Lede van die gemeenskap het hul skok oor die drie geliefde inwoners se dood uitgespreek. Betsie was die eienaar van die Byenes-dagsorgsentrum by die huis.

’n Gedenkgeleentheid gaan Saterdag (01/07) om 14:00 voor die woning gehou word en mense is welkom om blomme te bring, kerse aan te steek. Kinders kan ’n boodskappie skryf en dit saambring.

.  VP Plus betuig simpatie oor sinnelose moord op drie Wilgehof-inwoners

Die VF Plus veroordeel die sinnelose moord gister op drie inwoners van Wilgehof in Bloemfontein.  Die misdaadskrisis in Mangaung het lank reeds handuit geruk en moet dringend aangespreek word.

Mev. Betsie Kruger, een van die slagoffers, was ‘n geliefde lid van die gemeenskap. Onder haar liefdevolle hand as dagsorgmoeder, is menige kleinding gevorm. Ouers wie se kinders in haar dagsorgsentrum was, is swaar getref deur die nuus.

Die VF Plus verwelkom die feit dat die bevel- en beheerstruktuur van die polisiediens spoedig op die toneel was en alle toepaslike nooddienste spoedig ontbied is. Die honde-eenheid, forensiese eenheid en buurtwag was ook vinnig op die toneel.

Naburige inwoners en ondernemings het hul eie sekuriteitsbeeldmateriaal aan die polisie beskikbaar gestel om met die ondersoek te help.

Die VF Plus doen opnuut ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidsstrukture, om hulself en hul eiendom so goed as moontlik te beveilig en om ten alle tye paraat te wees.

Die VF Plus spreek hiermee sy opregte medelye uit met die slagoffers se naasbestaandes.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.